Banier
WELKOM!   INLIGTING   DIENS   AFLAAIE   LEES   KYK   TROUES   SKAKELS
Home You are here Tuiste
 

Tyd ná Epifanie

Epifanie

Teken aan




   Login reminder    Register

Teks van die dag

Jubel dit uit dat die Here die enigste God is.
Die Here het ons gemaak.
Elkeen van ons behoort aan Hom: Ons is syne.
Ons leef elke dag uit sy hand.
(Ps 100:2-3, Die Boodskap)

Gebedsprogram

Die Church of England het 'n baie sinvolle daaglikse gebedsprogram. Dit is hoogs aan te beveel!

Kommentaar

 
   
Die Bybel, die wetenskap en die skepping PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jaco Thom   
Woensdag, 01 September 2010 21:01
Lees Psalm 19

Uiteensetting van die probleem
As ’n mens die Bybel lees, lyk dit op die oog af of die skepping ses dae geneem het om te voltooi. Sommige Bybelkenners het sommetjies uit al die gegewens in Genesis gemaak en afgelei die aarde is 6000 jaar oud. Maar net vanoggend is daar ’n artikel in Die Burger waarin sonder skroom gesê word hulle het in Israel ’n argeologiese fonds gemaak wat aantoon dat daar 12000 jaar gelede in Israel ’n groot fees gehou is. Die artikel gaan verder om te sê dat dit kom uit ’n voor-landbou-era. Maar die Bybel ken nie ’n voor-landbou-era nie. In die Bybel staan dat die eerste mens wat gebore was, Kain, ’n landbouer was.

So sou ek kon voortgaan om verskille tussen die Bybelse gegewens en die wetenskaplike bevindings op te stapel. Voeg daarby vrae wat die Bybel self skep, soos waar het Kain ’n vrou gekry; wie is die mense vir wie hy bang was ná Abel se dood, ens.

Julle sien, hierdie vrae gaan uit van die veronderstelling dat die Bybel ons moet help met vrae wat ons moderne mense vra. Ons kyk na die Bybel vanuit ’n moderne samelewing wat steier onder al die kennis wat die mens oor die eeue versamel het en vandag teen ’n steeds vinniger tempo verwerf, en dan verwag ons die Bybel moet antwoorde gee, of minstens kan saampraat, met dié verbysterende inligting.

Dit lei tot een van drie standpunte:
  • Jy neem die Bybel ernstig op as Woord van God, en jy kom tot die gevolgtrekking dat die wetenskaplikes almal Godloënaars moet wees om die dinge te sê wat hulle sê, want hulle weerspreek dan op verskillende maniere dit wat die Bybel leer. En jy sê ja, dit mag wees dat die wetenskap sekere dinge vasgestel het, soos bv dat die aarde ouer as 6000 jaar is, maar wat daarvan? God kon mos die aarde geskep het met ouderdom ingebou in die rotsformasies, en dinosourus-fossiele en so aan.
  • Jy neem die Wetenskap ernstig, en dan moet jy sê die Bybel is ’n uitgediende, voor-moderne boek wat hoogstens interessant is, maar wat jy regtig nie ernstig kan opneem in die 21ste eeu nie. Nie net laat die Bybelse wêreldbeeld veel te wense oor nie, ons lees in die Bybel van wonderwerke, van die son wat stilstaan of selfs terugbeweeg op sy baan, van Jesus se maagdelike geboorte en opstanding uit die dood, en van ander dooies wat lewend word. Dit kom duidelik uit ’n tyd toe mense baie naïef was en enige ding vir soetkoek opgevreet het. ’n Moderne, denkende mens kan dit nie meer aanvaar nie.
  • Daar is nog ’n derde moontlikheid ook: Jy vra liewer nie vrae nie, want dit ontstel jou, so nou steek jy maar jou kop in die sand en sê jy glo soos ’n kind, en dis vir jou genoeg. Jy sê ’n mens moet liewer nie te diep delf nie, want dit maak jou net deurmekaar.

Nie een van dié drie standpunte bevredig nie. Dieselfde God wat aan ons die Bybel gegee het, het ook aan ons ’n verstand gegee om te dink, en die opdrag om te heers oor die skepping. Kennis is mag, en sonder kennis kan jy nie heers nie. Daarom is die wetenskap met al sy vertakkings deel van ons skeppingsopdrag, en kan ons nie onsself distansieer van die wetenskap en hulle bevindinge nie. Maar as gelowiges oorweeg ons dit ook nie om die Bybel af te skryf nie.

’n Bybels-verantwoordelike standpunt
Miskien moet ek net eers kortliks iets oor die eie aard van die Bybel sê. Die Bybel is ’n geloofsboek, nie ’n ensiklopedie nie. Dit bevat die getuienisse en besinnings van gelowiges. Ons glo dis deur God geïnspireer, maar dan nie só dat elke woord deur Hom gedikteer is nie. Dis eerder ’n geval dat ’n gelowige ’n boodskap van God ontvang het wat hy moet oordra, maar nie die woorde waarmee hy dit moet doen nie. Daarvoor gebruik hy sy eie kennis, vernuf, styl ens. Hy word nie skielik alwetend oor alles as hy sy boodskap afgee nie. Hy bly ’n kind van sy tyd; ’n tyd waarin geglo is die aarde is plat en staan op pilare, en die son draai om die aarde. Amos bly ’n boer, en Dawid ’n herder en later koning. Dis wie hulle was, en húlle het die boodskap van God neergeskryf, gedring deur die Gees.

Verder: die Bybel is ’n versameling geskrifte waarin daar ’n groot verskeidenheid literatuursoorte of genres voorkom, en om reg aan die Bybel te laat geskied, moet ons die verskillende genres ernstig opneem. Jy lees ’n gedig bv anders as ’n brief. As die gedig sê: “My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel,” weet ons dit beteken nie régtig dat as jy ’n nartjie afskil gaan ’n meisie daar uitspring nie! Dis ’n beeld wat assosiasies by die leser oproep. Dis wat Gen 1 ook is: ’n gedig, ’n lied, wat beelde gebruik, en as ons dit wat daar staan, net so letterlik opneem, mis ons die punt.

Die vraag is dan: hoe kan jy die Bybel glo, én die bevindinge van die wetenskap aanvaar? Ek dink Ps 19 wil ons daarmee help.

In Ps 19 sê Dawid God praat met ons op twee maniere: deur die skepping, en deur die Bybel. In die skepping sien ons sy grootheid, sy almag, sy wysheid, sy kunstenaarskap – die hele skepping jubel dit uit dat God groot is. Kyk om jou, kyk na die bevindinge van die wetenskap, en laat dit jou bring by verwondering.

As Dawid oor die Bybel in hierdie psalm jubel, is dit baie insiggewend dat hy nie sê die Bybel help ons om te weet hoe die skepping werk nie. Nee, die woorde wat hy gebruik, is woorde soos: die Here se voorskrifte, die bepalings van die Here, die Here se bevele, die opdragte van die Here, die gebooie van die Here ... Dit is alles woorde wat met lewenskuns en lewenstyl te make het. Die Bybel, sê Dawid, is daar om ons te help, nie om te weet hoe alles presies ontstaan het en in mekaar pas nie, maar om te weet hoe ons voor God in die wêreld, met verantwoordelikheid teenoor Hom en teenoor mekaar, moet leef.

In die natuur leer God ons iets van Wie Hy is, en in die Bybel leer Hy ons hoe ons in ’n verhouding met Hom kan leef. En as jy deur die bril van die Bybel na die natuur kyk, sien jy God al beter en staan jy al hoe meer verstom.

Die wetenskap kan nie jou vrae oor God en jou lewe voor Hom beantwoord nie, net so min as wat die Bybel jou vrae oor presies hoe die dinge ontstaan het en in mekaar steek, kan antwoord.

Die Bybel is ’n getuienis-boek; verhale wat vertel van die mensdom se lewe voor God, en God se besigwees en betrokkenheid by die mense.

Op dié punt loop ons gesprek met die wetenskap dikwels vas: by ons aanvaarding dat God bestaan, en meer nog, dat Hy kan ingryp in ons wêreld en dat sy ingrype nie aan natuurlike wetmatighede gebind hoef te wees nie. Ons bely dat God groter is as sy skepping, dat Hy in beheer is en Hom nie onttrek het sodat die wêreld as ’t ware op outo-pilot gestel is nie. Daarom bely ons, anders as harde evolusioniste, dat die mens nie spontaan deur mutasie of natuurlike seleksie of wat ook al uit ’n oer-primaat ontwikkel het nie, maar dat die skep van die mens ’n doelbewuste, beplande daad van God was, soos Gen 1 ons leer. Presies hoe dit gebeur het – dié soort vraag lê buite die Bybelse getuienis.

Ten slotte
Ek wil afsluit met ’n paar samevattende stellings:
?    Baie van ons probleme het te make met ’n misverstand oor wat die Bybel is en hoe ons die Bybel lees. Die Bybel is ’n geloofsboek, nie ’n handboek vir die wetenskap nie. Ek wil nie daarmee sê dat daar geen vrae oor die Bybelse gegewens mag wees nie, of dat die Bybel ’n maklike boek is om te verstaan nie, maar hierdie vrae het nie te make met die hart van ons geloof nie.
?    Die wetenskap én die Bybel het ’n plek in ons lewe; en beide het ’n noodsaaklike, maar eiesoortige plek.
?    As ons die eiesoortige karakter van die Bybel verstaan en dit ernstig opneem, hoef ons nie ontsteld te raak as daar wetenskaplike uitsprake gemaak word wat oënskynlik teenstrydig is met die Bybelse vertelling nie.


Verdere leesstof
Persvrystelling van die Moderatuur van die NG Kerk
Die Bybel sê nie hoe nie, net Wie
Gen 1 Die Bybel, die wetenskap en die skepping
Hoe is die heelal gebore?
Laas Opdateer op Woensdag, 22 September 2010 15:34
 

Lewer jou kommentaar hier, asb.


Sekuriteitskode
Verfris

Kopiereg © 2012 Toringkerk NG Gemeente. Alle Regte Voorbehou.
Joomla! is Gratis Sagteware en word kragtens die GNU/GPL Lisensie vrygestel.
Top