|
Geskryf deur Jaco
|
|
Dinsdag, 08 Junie 2010 16:30 |
Ná 18 jaar word ons huis hierdie maand vir die eerste keer aan die binnekant geverf. Ons het lank daarna uitgesien. Al die krake en barste en vuil kolle en vlekke gaan weg wees. Dit was hoog tyd dat dié goed aandag kry. Maar noudat dit uiteindelik ’n werklikheid geword het, is ons nie meer so opgewonde nie. In 18 jaar kan ’n mens nogal baie goed opgegaar, en dit staan die hele huis vol. Ons weet al lank dat ons behoort minder te maak, ontslae moet raak van die klotter, maar ai, dis makliker gesê as gedaan. Ek is nie ’n ou wat maklik iets weggooi nie, en buitendien beteken dit jy moet tyd maak om dit te doen. Dit gaan nie vanself uit die huis verdwyn en een mooi dag as ek wakker word, is die huis netjies en aan die kant nie. Ek moet dit doen. Ek moet elke onnodige boek, elke ekstra skroef en doos vat en uitgooi. En al die ornamente wat eens op ’n tyd vir ons mooi was, maar nou net in die pad is. Die een verwer vra my of ek al die boeke lees wat so in stapels in die kamer staan. En toe sê hy nee, dis te veel boeke. Ek stem met hom saam. Iewers, sonder dat ons dit agter gekom het, het ons opgegaarde goed begin om ons te verswelg. En nou moet ons daarvan ontslae raak. Pleks ons dit nooit aangeskaf het nie. Of net weggemaak het soos die tyd aangaan. Dan het ons nie nou so ’n kopseer gehad nie.
Ek het ’n idee dit gaan in ons geestelike lewe ook so. Oor die jare kom daar ongemerk gewoontes en sienings en tierlantyntjies by wat nie juis strook met die evangelie nie. Woorde word deel van jou woordeskat wat jou vroeër laat gril het. Gevoelens oor ander kom lê in jou hart en beswaar jou gemoed. Jou humeur word korter en jou liefde minder. Jou ywer vir die saak van die Here neem af. Jy is nie meer so lus soos eers om kerk toe te gaan nie, of jou stiltetyd is nie meer so gereeld soos dit eens op ’n tyd was nie. Hierdie geloofsverval gebeur nie oornag nie, en dikwels kom jy nie regtig agter dat dit gebeur nie, tot op ’n dag dat jy half verbaas en verleë besef dat dit darem nou te ver gegaan het.
Moenie 18 jaar wag voordat jy jou geloofshuis skoonmaak nie! Dis ’n saak wat letterlik daagliks jou aandag nodig het. ’n Mens se geestelike lewe kan nie die pas markeer nie. Óf jy groei nader aan die Here, óf jy dryf weg. ’n Tussen-in is daar nie.
Dis in elk geval wat ek dink. Hebreërs 6:11,12
 |