|
Julle krag lê in stil wees en vertroue hê (Jesaja 30:15).
Ek het ’n vriend wat glo dat periodieke stilte onmisbaar is vir ’n sinvolle lewe. Hy self beoefen die dissipline van stilte met groot oorgawe. Hy glo ook dat jongmense méér daaraan bloot gestel moet word – veral met die vinnige pas waarteen mense vandag leef.
Onlangs het hy sy twee seuns en ’n maat, al drie nog op laerskool, op ’n besonderse manier aan die waarde van stilte herinner.
Tydens die vakansie het hy hulle in die nabyheid van ’n groterige dam uitgedaag vir ’n nuwe speletjie, een wat – só het hy dit aan hulle gestel – spesiale moed sou vra. Op die een se vraag of hulle in die dam moes swem, het hy glimlaggend geantwoord: “Nee, nie dit nie. Wat ons gaan doen, gaan waarskynlik nog méér moed verg." En toe het hy verduidelik.
“Elkeen van julle moet vir hom ’n plek langs die dam soek. Ek gaan dan ’n towersirkel óm jou trek. Vir die volgende halfuur mag jy dit nie verlaat nie. In dié tyd moet jy doodstil wees en mag jy ook niks by die sirkel inbring of uitvat nie, soos byvoorbeeld om ’n klip in die dam te gooi nie. Al wat jy in dié halfuur van stilte moet doen, is om fyn waar te neem; jou oë en ore wyd oop te maak en te sien en te hoor wat alles in die sirkel en verder rondom jou gebeur."
Tot sy verbasing het die seuns gouer tot sy speletjie ingestem as wat hy verwag het. Wat meer is, ná die halfuur toe hulle weer bymekaar was, het hulle entoesiasties vertel van wat hulle alles gesien en gehoor het – die stof en klippe, die gewoel van klein insekte, visse in die water en so aan. Die hoogtepunt was die roep van ’n visarend.
My vriend was verras en verheug. In sy woorde: “Ons het nie gepraat oor God of oor Christus nie. Dit was nie nodig nie. Die stilte het ons gehelp om net dieper bewus te word van God se wonderlike skepping, en om dit te geniet."
Here, ons is só besig. Leer ons tog vandag weer die wonderlike krag en rykdom van stilte. Amen.
Carel Anthonissen
Sentrum vir Christelike Spiritualiteit: www.christianspirit.co.za of
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
|