 |
|
 |
|
Pinkster

|
|
Teks van die dag
Here, ons ken nie die krag van u woede nie. Ons besef nie hoe kwaad U vir ons kan word nie. Ons dien U nie soos wat U regtig verdien nie. Ons skiet ver te kort. Daarom vra ons: Help ons om U te dien en om gelukkig te lewe. Ps 90:11-12, Die Boodskap) |
|
|
|
|
|
|
 |
|
 |
|
|
jaco
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Saterdag, 08 Oktober 2011 21:00 |
|
Wat is geloof?
Ek wonder die laaste tyd baie oor hierdie vraag. Ek het dit altyd verstaan as ’n geloof in God, soos Hy Homself aan ons in die Skrif geopenbaar het, veral in Jesus. Ek het altyd gedink dit impliseer dat jy ook aanvaar dat Jesus uit die maagd Maria gebore is, dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het, dat Hy opgestaan het op die derde dag, dat Hy hemel toe gevaar het, dat Hy eendag weer sal kom. Ek het ewe naïef geglo dat, as jy in God glo, dié belydenis oor Jesus nie vir jou ’n probleem hoef te wees nie. Ons weet dat ’n gewone mens nie uit ’n maagd gebore kan word of uit die dood kan opstaan nie, maar dit, het ek altyd gedink, is die punt: Jesus was nie ’n gewone mens nie. Hy is God, en daarom tel ons aardse reëls en wetmatighede nie as ons oor Hom dink nie.
Deesdae word dié tradisionele, naïewe soort geloof ernstig uitgedaag deur mense wat vrydenkend met die Bybel omgaan. Hulle beskuldig mense wat soos ek glo, dat ons nie ruimte vir ander het nie, dat ons ander moet toelaat om te glo soos hulle wil, dat dogma in elk geval ’n verouderde manier is van omgaan met die geloof. Hulle sal sê hulle het vrede met hoe ek glo, en ek moet hulle toelaat om ander moontlikhede van spiritualiteit te ontgin. Hulle sien die Bybel as ’n boek oor mense se worsteling om oor God te dink (waarmee ek saamstem), maar is minder gemaklik met ’n standpunt dat die Bybel ook die gesagvolle spreke van God is. Die Bybel is ’n geestelike boek naas talle ander godsdienste se geestelike boeke, en hulle sal ook sonder skroom ander godsdienste se insigte in die godheid omhels. Hulle is veral baie verontwaardig as jy hulle uitvra oor hoe hulle meen hulle geloofsbeskouings rym met wat in ons belydenisskrifte staan. Want die kerk se belydenisskrifte is verouderde dokumente van die geloof van mense uit die Reformasie-era.
Ek hoor van mense wat op ’n “spirituele reis” is; wat die tradisionele verstaan van die geloof agtergelaat het; wat God nie meer soseer as ’n Persoon verstaan nie, maar as ’n misterie wat ons natuurlik nie kan begryp nie, maar met Wie ons eerder moet verenig deur ons spirituele oefeninge van meditasie, omgee vir ander, ensovoorts. Miskien hoor ek sleg, maar ek hoor al minder by dié stemme van Jesus, van sy kruisdood as versoeningsdaad. Die begrip “God”, so sê hulle ook, is ’n menslike uitdinksel, en ons kan nie met mekaar oor God praat voordat ons nie eers vir mekaar sê wat ons met dié begrip bedoel nie. Miskien is ek te sensitief, maar ek verbeel my ek hoor ook by hulle dat ek, wat tradisioneel is in my geloof, nog nie heeltemal die lig gesien het nie.
Ek wonder die laaste tyd baie oor die vraag na geloof. Ek dink nie die vrydenkendes is op die regte pad nie. Ek dink hulle sien “dwaallig vaak voor starre aan”, soos ons toendertyd gesing het. Ek sê nie dis slegte mense nie. Ek dink daar is baie goed in baie van hulle, opregte naasteliefde omdat hulle Jesus se verkondiging in die Evangelies ernstig neem. Maar ek dink hulle geloof lei na nêrens, en vir die kerk is sulke geloof ’n doodloopstraat.
“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde,” skryf Paulus in 1 Kor 2:2. Dís wat ek glo.
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 09 Augustus 2011 22:07 |
|
Ek pluk vanmiddag avokado’s. Dié wat dit al gedoen het, sal weet dat dit nogal ’n ding is. Die avo’s hang nie almal op gemaklike plukhoogte nie. Daarom moet jy óf ’n leer kry, óf in die boom klim, en die takke is soms bedrieglik bros. Menige avokado-plukker het al hier in die Paarl hard met moeder aarde kennis gemaak. Ek weet van minstens een wat hom dood geval het.
Maar dis nie wat ek wou vertel nie. Ek wou skryf oor die avokado’s. Terwyl ek ’n paar akrobatiese toertjies uithaal om van die moeiliker kalante in die hande te kry, tref dit my dat die boom vol blomme is vir volgende jaar se oes. ’n Avokadopeer neem ’n volle jaar om van blom tot ryp vrug te vorder. ’n Volle jaar!
Ek wonder of Paulus aan avo’s gedink het toe hy in Gal 5:22-23 ons geestelike volwassenheid met vrug vergelyk het.
Ons begeer almal die vrug van die Gees in ons lewens; daardie geestelike rypheid wat nodig is om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing te kan hê en te kan uitleef teenoor ander. Ons bid daarvoor, droom daaroor, en raak ongeduldig omdat ons helaas nie soveel daarvan in ons lewens sien soos ons gehoop het nie.
Maar – vrug vat tyd om te ontwikkel, het ek besef. ’n Volle jaar is nodig voordat ’n avokado wasdom bereik. Met die vrug van die Gees is dit nie anders nie. Dis nie ’n oornag-ding nie. Dis nie iets wat jy vandag vra, en môre het jy dit nie. Dis iets wat moet groei en ontwikkel in jou lewe; wat die sonskyn en die reën en die stormwinde en die koue wat die lewe na ons kant toe laat kom, nodig het om ryp te word.
Toe ek met ’n ryp, uitgeswelde avokadopeer in my hand staan en ek as ’t ware al die heerlike neut-smaak in my mond kon proe, toe weet ek: die lang wag was nie verniet nie. En toe wonder ek skielik of die hemelse Landbouer ook met soveel genoegdoening die vrug in mý lewe geniet?
|
|
Laas Opdateer op Dinsdag, 09 Augustus 2011 22:10 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Woensdag, 03 Augustus 2011 13:40 |
|
Dís die vraag waarmee ek al ’n hele rukkie worstel. Baie van ons weet dat jy nie iemand kan dwing om te glo nie. Jy kan ’n perd tot by die water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie, sê die spreekwoord. En van die geloof is dit 100% waar. Menige een van ons het al die frustrasie beleef dat jy ’n lang gesprek met iemand gehad het, of dalk ’n reeks gesprekke, waarin jy die ander persoon probeer oortuig het dat God daar is, dat geloof in God se bestaan sin gee aan joune, dat Hy leef en jou hele lewe verander het, maar telkens versand die gesprek(ke) in ’n skouer-ophaling by die ander persoon. Verby is die dae dat jy iemand kan bangmaak met die hel en die ewige verdoemenis, of kan wys op sonde en die noodsaak van verlossing. Mense steur hulle deesdae al hoe minder aan sulke soort emosionele afpersing.
CS Lewis skryf iewers dat niemand nog ooit ’n gelowige geword het omdat hy ’n argument verloor het nie. Argumente werk nie baie goed as evangelisasie-instrument nie. Dalk het dit vroeër; ek weet nie. Dit werk in elk geval beslis nie nou nie.
So, om terug te kom by my vraag: hoe gemaak om iemand by die Here uit te bring?
Ek dink ons het te lank die proses agterstevoor-om aangepak. Die gesprekke oor Jesus as die enigste Weg, Waarheid en Lewe is natuurlik noodsaaklik, maar dis nie waar ’n mens begin nie. Dis waarby jy uiteindelik uitkom, nadat jy ’n lang pad met iemand geloop het. Die ander persoon sal eers begin belangstel wat jy sê as hy/sy besef jy stel belang in hom of haar; dat dit vir jou om baie meer gaan as net sy of haar siel vir die Here wen. Trouens, jou aanpak moet só wees dat die ander sal beleef dat hy of sy as persoon vir jou belangrik is, ongeag die feit dat hy nie glo nie.
Daarom moet ’n mens nie iemand bevriend met ’n agenda nie. Wees net lief vir die ander. Dis tog die groot gebod, dan nie? En bid in jou binnekamer dat julle vriendskap uiteindelik die ander een só sal raak dat hy ook wil glo soos jy. Jy kan dit nie vir hom ingee nie, dis God se deel. Wees jy maar net ’n toegewyde, Geesvervulde Christen. Dís jou deel.
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 29 Maart 2011 22:28 |
Daar stap vanoggend 'n duifie ewe kordaat oor die pad toe ek in die straat opgery kom, en dit laat my gedagtes dwaal. Hoe lank gaan dié duif leef voordat hy die prooi van 'n motor word? Of dalk van 'n rondloperkat, of 'n valk? Toe ek naderkom, vlieg hy op en verdwyn met 'n paar sierlike vlerkklappe uit my gesigsveld. Wonderlik-mooi. Ek vind normaalweg nie juis goeie aanklank by ’n astro-fisikus soos Carl Sagan nie, omdat Sagan uitgaan van die standpunt dat daar geen God is nie, en dat die heelal soos ons dit ken, min of meer op eie stoom ontstaan en ontwikkel het tot die uiters komplekse en delikaat gebalanseerde kosmos waarin ons leef. Daar ís egter ’n ding wat ek by iemand soos Sagan leer, en dit is dat die mens nie moet dink hy is die een en al van die skepping nie. Dis ’n siening wat van die vroegste tye al bestaan het. Daarom is daar vir baie lank geglo dat die aarde die middelpunt van die heelal is, en dat die son om die aarde draai. Daar is ook vir baie lank geglo dat die mens die kroon van die skepping is, en dat die aarde gemaak is sodat die mens ’n byplek kan hê. Dié siening is natuurlik nie heeltemal ongegrond nie. Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 wil dit suggereer. Genesis 1 se verhaal loop op tot die klimaks waar die mens geskep word, en Genesis 2 vertel die skeppingsverhaal weer so dat die aarde as ’t ware om die mens se behoeftes gebou is. Daar is dus baie goeie redes waarom ons glo ons is nie soos die diere nie; dat ons anders is. Ons is immers na die beeld van God gemaak. In ons het Hy die asem van die lewe geblaas. Wat ons egter nie mooi raakgesien het nie, is dat God nie nét vir ons gemaak het nie, en dat die skepping nie nét om ons gaan nie. Ja, ons hét ’n baie besondere plek in God se mooi wêreld, maar ons het nie dié plek verniet nie. Ons het dié plek sodat ons bewaarders van God se goeie skepping kan wees. Dis op dié punt dat iemand soos Sagan ons kan help om ons te stroop van ons idee dat ons alte belangrik is, asof nét ons tel. Die res van die geskape werklikheid tel ook. Lees weer Genesis 1, en jy sal sien dat God trots is op sy skepping. Die res van die Bybel herinner ons ook daaraan, soms op onverwagte plekke. Een van dié plekke is die boek Jona. Die boek Jona sluit met hierdie treffende vraag van God af (4:10,11): “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” En in Matteus 10:29 herinner Jesus ons daaraan dat God ook oor die mossies begaan is: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.” ’n Mens kan ook beswaarlik die verhaal van Noag (Genesis 5 en verder) lees sonder om God se omgee vir sy hele skepping raak te sien. As God dan só oor sy skepping voel, durf ons ongeërg wees oor die praktyke wat God se skepping so verniel? Ons is tog hier om dit op te pas?
|
|
Laas Opdateer op Dinsdag, 29 Maart 2011 22:41 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Vrydag, 04 Februarie 2011 12:21 |
|
My een kind sê anderdag vir my ’n vriend van haar speel gereeld die Lotto, en wat dink ek daarvan. Haar lyftaal en stemtoon het dit duidelik gemaak wat sy dink ek behóórt daarvan te sê, maar ek het nie. Ek het net my skouers opgetrek. ’n Paar jaar gelede sou ek baie sterker gereageer het. Ek kom agter dat ek in die laaste tyd minder sterk ook sake voel; minder geneë is om my kop oor iets uit te steek, en ek wonder daaroor. Is dit omdat ek ouer word en die wysheid van die jare my help? Of is dit dalk dat ek moeg is van standpunt inneem omdat daar soveel dinge om ons is wat verkeerd is? Is dit omdat ek meer soos Jesus word, wat nie gekom het om die mense te veroordeel nie, maar om hulle te red? Dat ek voel liefde, nie oordeel nie, sal my verder bring? Ek weet nie. Ek hoop dis laasgenoemde, maar ek lees onlangs navorsing van die Barna-groep in die VSA wat my weer oor dié vrae laat dink het: Six Megathemes Emerge from Barna Group Research in 2010. Onder ander die opskrif The postmodern insistence on tolerance is winning over the Christian Church skryf hulle dat moderne mense in die VSA, uit vrees dat ander sal sê hulle is veroordelend, al minder vrymoedigheid het om standpunt in te neem. Voeg daarby dat moderne mense ook nie juis meer die Bybel ken nie, en dit maak dat ’n groot aantal moreel en geestelik twyfelagtige gedragspatrone en filosofieë deesdae verdra word. In Suid-Afrika hang die albatros dat apartheid teologies verdedig is, ook nog om die NG Kerk se nek, wat ons nóg minder vrymoedig maak om te sê iets is reg of verkeerd. Dit kan dus wees dat my traagheid om my uit te spreek oor morele en etiese kwessies nie die produk is van geestelike volwassenheid nie, maar van die tydsgees. En dán het ek (en ons almal) baie rede tot kommer.
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Vrydag, 29 Oktober 2010 18:26 |
Die Maandagmiddag bel 'n lidmaat my. Sy het 'n ambulans by een van ons gemeentelede se huis gesien, en sy het gehoor hy het 'n ernstige beroerte gehad. Ek jaag hospitaal toe. 'n Donker prentjie begroet my daar. Die dokter se gesig is somber, sy lyftaal spreek boekdele. Hy neem my en die lidmaat se vrou na sy kantoor en wys vir ons die breinskandering wat op haar man gedoen is. 'n Groot deel van sy linkerbrein is dood. Anders as die regterkantste hemisfeer is die linkerbrein 'n groot, onheilspellende donker kol. Die prognose is nie goed nie. Verlam aan die regterkant, spraak beslis ernstig aangetas, denkprosesse ook. Hy sê dit nie reguit nie, maar ek sien hy dink dis beter as die man dit nie oorleef nie. Daar is klaar tekens van swelling op die brein, wat die breinstam onder druk plaas en die asemhaling en hartklop sal affekteer. Sy vrou bespreek die opsies, moontlike behandelings, en die dokter sê daar is eintlik nie iets wat hulle kan doen nie, behalwe om hom so gemaklik moontlik te maak. Sy moet in elk geval maar haar kinders laat kom, sê hy. Hy dink nie haar man sal die nag oorleef nie. Twee ander dokters bevestig sy diagnose. Ek en die vrou gaan sit in die hospitaal se kapel wat reg langs die intensiewe sorgeenheid is waar die man roggelend worstel om te bly leef. Ons bid, want, so sê ek vir die vrou, by God is niks onmoontlik nie. Ja, sê sy, as Hy 'n byl op die water kon laat dryf ... Ek slaap dié nag sleg, want ek verwag 'n oproep van die hospitaal. Maar dit kom nie. Vroeg Dinsdagoggend bel ek die hospitaal. Die verpleegkundige wat die lidmaat moes verpleeg, sê hy is wakker. My hart sak in my skoene. Watter ellende wag op die arme vrou wat 'n flentermens vir die res van haar lewe sal moet versorg? Ek ry hospitaal toe en stap huiwerig na die intensiewe sorgeenheid. "Dag, Jaco," goet die man my en gee my 'n stewige handdruk met die hand wat veronderstel was om leweloos langs sy liggaam te hang. Ek is verbyster. Hy praat effens deurmekaar, maar andersins is dit die man wat ek die afgelope 19 jaar ken as 'n baie betrokke gemeentelid. Woensdagoggend gaan ek weer. Hy staan in die hospitaal se portaal en wag op sy vrou. Die dokter het hom ontslaan! Hulle kon glo nie met hom huishou in die saal nie. Hy is te aan die gang. Donderdagoggend gaan loer ek by sy huis in, en daar sit hy, vol kwinkslae soos altyd. Dis 'n wonderwerk!
|
|
Laas Opdateer op Vrydag, 29 Oktober 2010 18:28 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Donderdag, 16 September 2010 08:47 |
|
Ons praat nou die dag by die roepingsgesprek oor Jeremia 1:5, waar die Here sê: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel."
Die gesprek het later gegaan oor die drie begrippe geken, gevorm en gewy. Die Here se pad met ons kom al 'n hele ent langer aan as wat ons aldag dink. Hy het ons voorberei vir die taak waartoe Hy ons vandag roep, het ons vir mekaar gesê.
Die begrip "ken" het by my vasgesteek. Die Here ken ons. Hy ken jou. Hy weet presies wie jy is, wat jou vermoëns is, waarvoor jy kans sien en waarvoor nie, maar ook waartoe jy in staat is. Hy sal nie iets van jou vra wat jy nie kan doen nie. Hy sal bv nie vir ons vra om die Lingelihle Crèche te vergroot as Hy nie weet dat ons dit kan doen nie. Ons dink ons het nie die geld nie, maar Hy weet presies wie ons is en wat ons in sy Naam kan vermag. Dieselfde geld ook vir jou en my as indiwidue. 'n Mens deins soms terug van die uitdagings wat die Here oor jou pad bring en dink jy kan dit nie doen nie, maar die Here ken jou. Hy weet wat jy kan - dis hoekom Hy dit van jou vra!
In Psalm 103:14 staan daar: "Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is." Hy weet! Daarom kan ons in geloof antwoord op sy roeping, al vermoed ons dis bo ons vuurmaakplek. Ons kan ja sê, want ons weet, al dink óns nie so nie, Gód weet ons kan, en dis genoeg om te weet.
Vertrou God, en leef jou roeping!
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 15 Junie 2010 15:30 |
Ek is op die oomblik besig met die Markus-Evangelie. In die lees raak ek toenemend bewus van Jesus se menslikheid. Ons relativeer maklik Jesus se lyding en sterwe vanuit die perspektief dat Hy ook ware God is, en, so verbeel ons onsself, dit beteken dat Hy sy lyding makliker kon hanteer. Twee goed wat ek vanoggend gelees het, het my opnuut laat besef hoe verkeerd dié opvatting is, en my weer Jesus se offer skerp laat verstaan. Die eerste is waar Hy oor die wederkoms praat asof dit nog in sy hoorders se leeftyd sou gebeur (Mark 13:30). Ons weet uit die goed wat in die sendbriewe geskryf is, dat die dissipels dit inderdaad ook so verstaan het. Toe ek daaroor nadink om te verstaan hoekom Jesus so iets gesê het, het dit my skielik getref: Hy was 'n mens, sonder die voordeel van alwetendheid. Daarom klink sy uitsprake hier baie soos dié van die profete, wat nie altyd goed kon onderskei hoe ver in die toekoms dít wat hulle voorspel, gelê het nie. In Jesus se voorspelling loop dít wat in 70nC gebeur het toe Jerusalem verwoes is, en dit wat met die wederkoms sal gebeur, ietwat deurmekaar, want as mens het Hy nie die twee uitmekaar kon haal nie, amper soos Johannes die Doper wat nie dít wat Jesus met sy eerste koms kom doen het, verstaan het nie omdat hy dít wat by die wederkoms sal gebeur, tóé al verwag het. En in 13:32 sê Jesus dit self ook: niemand weet wanneer dit sal gebeur nie, ook nie die Seun nie; net die Vader. Later lees ek van Jesus se worsteling in Getsemane (14:34ev), van sy doodsbenoudheid en sy smeking dat die Vader sy komende lyding sal wegneem. 'n Mens sal dit nie goed kan begryp as jy daar aan Hom as Seun van God dink nie. Hy staan daar in al sy menslike broosheid op sy knieë en worstel met God se plan vir sy lewe; 'n plan wat lynreg indruis teen wat Hy graag self wil hê. En tog druk hy deur, omdat die Vader nee gesê het op sy smeking. Dis nie net ek en jy wat met vrae en onduidelikhede en vaaghede in ons geloof sit nie. Dis nie net ek en jy wat soms 'n nee by God kry nie. Jesus het ook. Dís hoekom Hy ons Leidsman kan wees. Ek dink dis iets waaroor ons Hom kan prys. Dink jy nie ook so nie?
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 08 Junie 2010 16:30 |
Ná 18 jaar word ons huis hierdie maand vir die eerste keer aan die binnekant geverf. Ons het lank daarna uitgesien. Al die krake en barste en vuil kolle en vlekke gaan weg wees. Dit was hoog tyd dat dié goed aandag kry. Maar noudat dit uiteindelik ’n werklikheid geword het, is ons nie meer so opgewonde nie. In 18 jaar kan ’n mens nogal baie goed opgegaar, en dit staan die hele huis vol. Ons weet al lank dat ons behoort minder te maak, ontslae moet raak van die klotter, maar ai, dis makliker gesê as gedaan. Ek is nie ’n ou wat maklik iets weggooi nie, en buitendien beteken dit jy moet tyd maak om dit te doen. Dit gaan nie vanself uit die huis verdwyn en een mooi dag as ek wakker word, is die huis netjies en aan die kant nie. Ek moet dit doen. Ek moet elke onnodige boek, elke ekstra skroef en doos vat en uitgooi. En al die ornamente wat eens op ’n tyd vir ons mooi was, maar nou net in die pad is. Die een verwer vra my of ek al die boeke lees wat so in stapels in die kamer staan. En toe sê hy nee, dis te veel boeke. Ek stem met hom saam. Iewers, sonder dat ons dit agter gekom het, het ons opgegaarde goed begin om ons te verswelg. En nou moet ons daarvan ontslae raak. Pleks ons dit nooit aangeskaf het nie. Of net weggemaak het soos die tyd aangaan. Dan het ons nie nou so ’n kopseer gehad nie.
Ek het ’n idee dit gaan in ons geestelike lewe ook so. Oor die jare kom daar ongemerk gewoontes en sienings en tierlantyntjies by wat nie juis strook met die evangelie nie. Woorde word deel van jou woordeskat wat jou vroeër laat gril het. Gevoelens oor ander kom lê in jou hart en beswaar jou gemoed. Jou humeur word korter en jou liefde minder. Jou ywer vir die saak van die Here neem af. Jy is nie meer so lus soos eers om kerk toe te gaan nie, of jou stiltetyd is nie meer so gereeld soos dit eens op ’n tyd was nie. Hierdie geloofsverval gebeur nie oornag nie, en dikwels kom jy nie regtig agter dat dit gebeur nie, tot op ’n dag dat jy half verbaas en verleë besef dat dit darem nou te ver gegaan het.
Moenie 18 jaar wag voordat jy jou geloofshuis skoonmaak nie! Dis ’n saak wat letterlik daagliks jou aandag nodig het. ’n Mens se geestelike lewe kan nie die pas markeer nie. Óf jy groei nader aan die Here, óf jy dryf weg. ’n Tussen-in is daar nie.
Dis in elk geval wat ek dink. Hebreërs 6:11,12
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Woensdag, 05 Mei 2010 20:46 |
Partykeer word die bedelaars vir my net te erg. Soos 'n vriend eenkeer opgemerk het: ek het nie die lewensvaardigheid om dit te hanteer nie. Drie weke gelede het 'n man my in die kerk kom oploop. Sommer op die kansel opgeklim toe ek nog ná die erediens besig was om my goed bymekaar te kry. Ewe vals my bedank vir die preek wat dan glo so baie vir hom beteken het. Weet te vertel hy is honger, en ek moet net na God luister, dan sal ek weet wat om te doen. Ek vertel toe vir hom dat hy op Sondae twee keer by die kerk kan kos kry; die middag op die parkeerterrein, en die aand weer na die aanddiens. Nee, sê hy, ek luister nie mooi na God nie, want anders sou ek hom dadelik gehelp het. Toe slaan hy sommer oor na Engels. "You must practice what you preach, otherwise, what does your preach mean?" Met beskuldigende vinger en al. Ek het soos 'n rot gevoel. Die feit dat ons huisdokter later sê hy kon sien die man gebruik dwelms, het darem bietjie gehelp. Vandag weer 'n ou by die deur, netjies, ewe met 'n aktetassie in die hand. Beslis nie jou hawelose soort nie. Ek dag hy kom kollekteer vir een of ander instansie. "Dominee, ek is honger," is sy groetwoord. Nie 'n vraag nie; 'n beskuldiging. My bioritmis was seker nie reg nie, want die man se houding het nie vir my gewerk nie. Buitendien was ek bietjie gedruk vir tyd. Toe ek sê ek kan nie help nie, raak hy aggresief. "Nee, dominee man, moenou nie so wees nie." Toe ek die deur toemaak, skel hy: "Jou sleg ding!" Ek ruk die deur oop, en hy skel voort: "Jy is 'n man van God maar jy help my nie!" Iewers het daar oor die jare 'n ander houding by bedelaars gekom. Nie meer 'n houding van ek-is-verleë-en-dankbaar-vir-hulp nie, maar jy-skuld-my-en-dis-my-reg-om-gehelp-te-word. Daarom eis hulle geld of kos, en wee jou as jy dit nie gee nie! Ek bid maar dat die Here my die onderskeidingsvermoë sal gee om te help waar daar regtig nood is, en ek troos my daaraan dat die Here Jesus nie alle nood in Israel verlig het terwyl Hy daar was nie. Intussen wens ek ek het 'n hoë heining om die erf gehad, met 'n interkom by die voorhek, sodat ek nie in my gesig verskree hoef te word nie. En ek droom van 'n dag wanner ons kosgee-program só goed loop dat daar elke dag kos sal wees, sodat ons mense op so 'n manier kan help en hulle nie tussen die huise loop en dwaal soos aasvoëls nie.
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 13 April 2010 08:00 |
Hier in die Pase, die Opstandingstyd, word 'n mens noodwendig weer gekonfronteer met die vraag: Hoe dink jy oor die opstanding van Jesus? Ek is nie 'n Nuwe Hervormer nie. Ek is ook nie iemand wat die feitelikheid van Jesus se opstanding hoegenaamd wil verwater of enige vraagtekens daaroor wil hang (soos skynbaar mode geword het by sommige moderne teoloë) nie. Ek glo dat Jesus leef, nie net in gees nie, en dat Hy ná sy opstanding 'n liggaam gehad het (en steeds het) waaraan mense kan vat. Hy het immers vir Tomas genooi om sy vingers in sy wonde te kom druk, en vis geëet om vir sy dissipels te wys dat Hy nie 'n gees of blote verskyning is nie. Hy het ook vir Maria Magdalena gesê sy moet Hom nie vashou nie, toe sy voor sy voete neergeval het op daardie heel eerste Paasmôre. Tog dink het die Nuwe Hervormers druk ons om meer genuanseerd as in die ou dae oor Jesus se opstanding te dink. Ek het dit die afgelope tyd weer goed besef toe ek 'n stukkie gelees het waar iemand Jesus se ontwaking uit die dood probeer beskryf het; hoe die bloed weer in sy are begin pomp het, die naalde en spelde-sensasie in sy vingers, ensovoorts. Aangrypend geskryf, maar terselfdertyd ook heeltemal te veel gesê. Ek wil vandag met baie groter huiwering praat oor wat ek van Jesus se opstanding weet. Nie oor die dát van die opstanding nie (daaroor twyfel ek nie) maar oor die hóé daarvan. Ek meen ons was in die verlede heeltemal te stellig oor sake wat die Bybel self in misterie hul. Jesus se opstanding is iets totaal anders as bv dié van Lasarus of Jaïrus se dogter. Sy liggaam was nie meer 'n gewone aardse liggaam nie; daarom kon Hy verskyn en verdwyn, en het selfs sy naaste aardse vriende Hom nie noodwendig onmiddellik herken nie. Paulus maak ook heelwat daarvan dat die vlees van die opstandingsliggaam anders is as dié van ons aardse liggame. Daarom juig ek vandag oor die opstanding, maar trap ek suutjies as ek dit verwoord, want dit is 'n gebeurtenis wat ons verstand te bowe gaan. Maar dis tog wat geloof is, nie waar nie? Om jou lewe oor te gee, en jou denke, aan Hom wat soveel meer is as wat ons ooit sal begryp. Jesus het opgestaan! Hy leef! Halleluja!
|
|
Laas Opdateer op Woensdag, 14 April 2010 14:13 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Woensdag, 10 Maart 2010 21:51 |
Die woorde van Dawid in Ps 27:4 bly die laaste ruk in my gedagtes draai: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel.” Miskien het Paulus dié woorde van Dawid in gedagte gehad toe hy in Fil. 4:8 geskryf het: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is , alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig,” of soos hy dit in Kol. 3:2 stel: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is ...” Veral hier in die Lydenstyd is Dawid se versugting vir ons tydig. Sonder nadenke oor die goedheid van God, of dan die bekoorlikheid, die skoonheid van God (as ons meer letterlik vertaal) kan ons godsdiens maklik vervlak in ’n pligpleging sonder enige persoonlike verhouding met God, iets wat ons vinnig wil afhandel sonder om ons daarin te verdiep. Die Hervormers se groot vraag was: “Hoe kry ek ’n genadige God?” Vir hulle was die skuld-vraag die heel belangrikste van almal, en hulle was waarskynlik reg, want solank ons skuld tussen ons en God staan, sal ons nie by Hom uitkom nie. Maar geloof gaan nie net om die skuld-vraag nie, want dit kan daartoe lei dat ons net met ons sonde besig bly, en ons vergifnis, en ons nie verder kom as sondebelydenis nie. Nadenke oor die goedheid van God is iets heeltemal anders. Dit dwing ons om tyd te maak om oor God self na te dink, nie net oor wat ons van Hom kan kry nie, maar ook Wie Hy is. Wie is Hy vir jou? Dit is die vraag waaroor jy en ek helderheid moet kry. Want Hy is veel meer as net die Een wat ons skuld vergewe. Hy is die lig, die bron van die lewe, die fontein waaruit alles wat goed is, vloei; Hy is liefde, Hy is kunstenaar by uitnemendheid, Hy is vol verrassings ... O, dat ek my lewe lank mag nadink oor God se skoonheid en goedheid!
|
|
Laas Opdateer op Woensdag, 10 Maart 2010 21:52 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Dinsdag, 23 Februarie 2010 08:14 |
Twee goed het hierdie week gebeur wat my weer oor dié gebruik laat nadink het. Die een is ’n kennis van my wat alkohol opgegee het vir Lydenstyd. Maar Saterdag was dit verskriklik warm. Hier in die Paarl het die kwik by 46 grade gaan draai. Die man sê toe hy het nou wel alkohol opgegee vir Lydenstyd, maar dit was so warm, toe knak hy maar ’n biertjie. Dawid se woorde in 2 Sam 24:24 het my te binne geskiet: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Die ander ding wat my weer laat nadink het oor vas, was ’n gesprek met iemand wat gesê het vas is vir haar iets wat jy doen as jy jou voor die Here verootmoedig, of as jy sy leiding in ’n saak soek en jou daarom afsonder in gebed, en sy is natuurlik reg ook. Vas kán dit beteken. Maar dis nie die enigste vorm van vas nie. Vas in Lydenstyd het vir my ’n ander karakter. Dis nie soseer ’n daad van verootmoediging nie; dis eerder ’n daad van toewyding, iets wat jou voortdurend herinner aan ons Heiland wat sy lewe (en nie maar net sjokolade of alkohol of koffie of sepies of so iets nie) opgegee het vir my en jou. ’n Mens kan beswaarlik die Lydenstyd vastende deurgaan en nié aan die Here se offer dink nie, want elke keer as jy die keuse opnuut maak om die koppie koffie nié te drink nie, of die sjokolade nié te eet nie, herinner dit jou onwillekeurig aan die Here se lyding. So dra ons ons geloofsverhouding in in die gewone sfeer van ons daaglikse lewe, en kan dit selfs ’n wonderlike aanknopingspunt tot ’n gesprek word met iemand anders. Ons hoef natuurlik nie te vas nie; dis ’n vrywillige keuse. Maar vir dié wat die keuse maak, is dit ’n geseënde een. Daarvan kan ek persoonlik getuig.
|
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Maandag, 09 November 2009 21:45 |
|
Laat ek dit maar reguit sê: ek verstaan God nie aldag nie. Ek verstaan nie hoe Hy met mense werk nie; hoe Hy met sy eie kinders werk nie, mense wat Hy liefhet. Hoe kan Hy dan toelaat dat slegte dinge met sy kinders gebeur? Hoekom bly Hy soms stil as hulle in hulle nood na Hom toe vlug en soebat en smeek om uitkoms, om 'n antwoord? Jesus het ons tog Self genooi om te vra, en vir ons sal gegee word. Hy het vir ons die gelykenis vertel van die weduwee en die onregverdige regter, om te sê God is nie soos die onregverdige regter nie, ons hoef nie gedurig in sy ore te kerm nie, want Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons vra. Dis dán dat ek verleë staan voor mense wat vrae vra oor God se voorsienigheid, want ons mooiklinkende antwoorde dat God weet wanneer die regte tyd is, of dat Hy soms nee sê omdat Hy iets beters vir jou in gedagte het, of dat Hy soms wag-'n-bietjie antwoord - ons mooiklinkende antwoorde klink maar bra hol as jy iemand wat diep teleurgesteld is in die manier waarop God nie sorg nie, moet troos. Dan het ek, die man wat veronderstel is om die Bybel te ken en God se paaie te kan wys vir mense, nie antwoorde nie. Dan huil ek maar saam met mense oor hulle teleurstellings en sê simpel goed soos dat ons nie God se weë kan verstaan nie.
Hoe wens ek nie ons kon Hom verstaan het nie! Hoe wens ek nie ons kon iets van sy Goddelike logika begryp het! Maar helaas, ek sit ook maar met die vrae. Een troos het ek darem, en dit is dat groter teoloë as ek ook oor dié goed gewonder het. Selfs die apostel Paulus skryf in 1 Kor 13 dat ons nou nog in 'n dowwe spieël kyk en 'n raaiselagtige beeld sien; dat ons eendag in die hiernamaals eers alles sal verstaan. Dan sê ek vir myself, as 'n man soos Paulus ook nie alles kon verstaan nie, hoekom sal ek?
Maar watter troos bring 'n mens vir iemand wat moedeloos op uitkoms gebid en gewag is?
Wat ek wel sien, is dat mense wat só met God worstel, geestelik ongelooflik groei. Ek sien dat ons vrae en frustrasies ons nader aan God bring - mits ons natuurlik mét God worstel, en nie die rug op Hom draai nie. Op 'n manier wat ek nie verstaan nie, is dit régtig so dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).
|
|
Laas Opdateer op Maandag, 09 November 2009 22:00 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Donderdag, 15 Oktober 2009 12:26 |
|
Die Hebreërskrywer maak baie daarvan dat ons geloof juis nie op sien gebaseer is nie (Heb 11:1). Hy sê as jy iets kan sien, het jy nie geloof nodig nie. Dís natuurlik presies hier waar die moderne skeptici die pad byster raak.
Hulle meen dat jy nie iets kan glo wat jy nie kan bewys nie. Hulle maak hulle eie verstand uiteindelik die regter in die saak oor God. God kan natuurlik nie gesien word nie, en nie bewys word met wetenskaplike navorsing nie. Dus is die gevolgtrekking logies: God bestaan nie. Die feit dat hulle nie antwoorde het oor die vraag na waar die skepping vandaan kom, of waar lewe vandaan kom nie, pla hulle skynbaar nie. Die ongelooflike wonder van die skepping met sy delikate balans skreeu dit elke dag dawerend uit dat God daar is. Die Bybel praat dikwels daarvan. Gaan lees gerus Psalm 19, Jesaja 40, Job 38-41 ... En tog sal agnostici en ateïste hulle skouers optrek en sê dit oortuig hulle geensins om te glo nie. Húlle sien God nie in die natuur nie.
Daar is ook ander vorme van moderne nadenke oor dié saak wat ongelukkig nie minder verlossend is nie. Die sg. Nuwe Hervormers (ek gee toe dis moeilik om hulle almal netjies onder een sambreel bymekaar te hou, want hulle standpunte is soms baie uiteenlopend) aanvaar wel dat God daar is, maar het talle vrae oor die Persoon van Jesus. Hulle probleem is dat daar geen wetenskaplike ruimte is vir Jesus se maagdelike geboorte of sy opstanding uit die dood nie. Vir hulle was Hy bloot ’n besondere, begenadigde profeet, en dis al. Hy was seun van God soos ons almal kinders van God is, en nie Seun van God in ’n unieke, vreemde manier soos wat ons bely nie. Hy was nie God self soos Joh. 1 onomwonde sê nie. Snaaks dat mense wat tweeduisend jaar ná Jesus geleef het, beter weet as mense wat Hom self geken het, persoonlik die opgestane Jesus in lewende lywe ontmoet het, en getuies was van sy hemelvaart. Die Nuwe Hervormers bepleit ’n soort geloof waarin ons aanvaar dat Jesus wel vir ons ’n weg na God toe wys met sy verkondiging, maar dat die weg wat ons as Christene bely, slegs een van die legitieme weë na God toe is, naas talle ander weë, soos dié waarop bv. die Moslems loop. Ons almal sal uiteindelik by dieselfde God uitkom, al roep ons Hom tans op verskillende name aan en al lees ons verskillende handleidings, soos die Bybel en die Koran en so aan.
’n Mens moet baie onkundig en ondenkend wees as jy nie self ook al op ’n stadium (of selfs meermale) oor dié goed gewonder het nie. Prof. WIllie Jonker het op ’n keer gesê iemand wat nog nooit oor God getwyfel het nie, het net nog nooit regtig oor Hom gedink nie. Want alles is nié glashelder as dit by geloof kom nie. Ek het ook talle vrae. Ek wonder soms of ek my nie maar alles self wysmaak en glo omdat dit die veilige uitweg is nie. Ek wonder veral oor dié dinge as ek lank en ernstig bid oor iets wat vir my baie belangrik is, en dan voel dit vir my my gebede hang in die lug. Het God dit ooit gehoor? Steur Hy Hom regtig aan my gekerm? Of nog erger: is daar ’n God? Maar geloof is nie net ’n intellektuele spel nie. Ek dink dis baie moeilik om te glo as jy géén ervaring ooit van God het nie. As jy die Here Jesus nog nooit werklik ontmoet het en daarom weet dat Hy leef nie. As jy nog nooit die Bybel gelees het en skielik net die gewaarwording het dat die Gees nou by jou is en besig is om met jou spesifiek te praat nie. As jy nie daagliks ondervind hoe die Bybel jou lewe rig en verryk omdat God daardeur aan die woord kom nie. As jy nog nie met ander gelowiges saam was en beleef het hoe julle saamwees méér is as net julle, want God is self teenwoordig. As ek twyfel, bring dié soort ervarings van God se lewende teenwoordigheid my weer tot rus. Hoe kan ek selfs net wónder of God regtig is, as ek dan self al beleef het hoe Hy my lewe aangeraak het?
God is baie groter as wat ek en jy ooit kan vermoed. Ons kan Hom nie kleinkry nie. As ons kon, sou Hy mos nie God gewees het nie! En daarom móét ek ook in my denke oor God ruimte maak vir die misterie van sy grootheid, sy andersheid, sy heiligheid. En moet ek Hom vertrou omdat ek glo Hy weet wat Hy doen, selfs al maak dit vir my gladnie sin nie.
Ek glo, Here! Kom my ongeloof te hulp.
|
|
Laas Opdateer op Maandag, 09 November 2009 22:01 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Maandag, 07 September 2009 16:59 |
|
Laat ek maar eerlik wees: my verstaan van wat geloof is, het die laaste tyd ingrypende veranderinge ondergaan. Ek sou seker kon sê verdieping, maar dalk is dit effe verwaand, asof ek nou eintlik weet wat gaan vir wat as dit by geloofskwessies kom.
Wat is nou anders?
Ek dink die groot verandering het gekom by my definisie van ’n ware geloof. In my jongdae het ek gedink ’n ware geloof is om seker te weet dat Jesus jou persoonlike Verlosser is; om te glo en te bely dat sy bloed ook jóú skuld weggewas het.
Dit is natuurlik nie verkeerd nie. Maar dis onvolledig om só oor geloof te praat. Want geloof het ook ’n ander kant, ’n doen-kant. Daarsonder weet ek werklik nie of dit meer geloof is nie. Jakobus sê ’n liggaam wat nie asemhaal nie, is dood, en so ook is geloof wat nie in werke sigbaar word nie, ’n dooie geloof. Natuurlik het ek dit altyd geweet en gesê ook, en gepreek, maar ek het altyd gedink die werke-deel is so half en half ekstra; ’n bonus. Ek het dit nie mooi deurgedink en verstaan dat werke ’n integrale deel van geloof is nie.
Ek was daarin ’n goeie seun van die kerk, want dis hoe die kerk ons oor die jare geleer het. Daarin was ons ’n tipiese ortodokse kerk – ons het baie gemaak van die regte leer, die suiwer verkondiging, die korrekte verstaan van die Skrifte. Ons het gedink solank dít reg is, is alles reg. En ons was hopeloos verkeerd. Want kennis alleen kan jou nie in die regte verhouding met God bring nie. Geloof vra navolging; om nie net te praat soos Jesus nie, maar te leef soos Hy.
Ek is dankbaar en opgewonde oor die nuwe verstaan van geloof. Oral om my sien ek mense wat dit ook verstaan, en leef. En gaandeweg lyk die kerk anders. Kry die kerk ’n vriendelike gesig, ’n helpende hand, word dit ’n tuiste.
Ek dink Jesus glimlag oor dié verandering.
|
|
Laas Opdateer op Maandag, 09 November 2009 22:02 |
|
Geskryf deur Webmeester
|
|
Woensdag, 02 September 2009 08:51 |
|
Ek lees gister die grappie van die man wat in die christelike boekwinkel is en vir die assistent vra waarvoor is die letters WWJD op die pette wat hulle verkoop. Sy sê toe dit is om jou te help om te weet wat die regte ding is om te doen in 'n bepaalde situasie, want dit staan vir "What would Jesus do". Waarop die man antwoord: "Jesus sou nie R89,95 vir daardie pet gevra het nie."
Inderdaad. Wat sou Jesus gedoen het? Hoe kan 'n mens weet? Dis natuurlik wonderlik om jou lewe te wil laat lei deur die voorbeeld van Jesus, maar om te weet wat Hy in 'n bepaalde situasie sou gedoen het, is nie so eenvoudig nie, en een van die redes daarvoor is dat ons Hom nie so goed ken soos ons behoort nie. Ons lees nie genoeg oor Hom nie; ons fokus nie genoeg op Hom nie; ons praat nie genoeg met Hom nie; ons luister nie genoeg na Hom nie. Kortom, voordat jy 'n intuïtiewe aanvoeling kan kry oor wat Jesus sou gedoen het as Hy in jou skoene was, moet jy 'n baie diep, innige verhouding met Hom hê.
Ek dink ons moderne mense sukkel met hierdie een, want daar is so baie eise en aansprake op ons tyd en aandag wat van verskillende oorde op ons afkom, dat die tyd dikwels ontbreek om aan 'n dieper verhouding met Jesus te werk. Dit is nie maar genoeg om te bid: "Jesus, wees U die Koning in my lewe, Amen," en daar gaan jy nie. Dit gaan om 'n daaglikse verdieping in God se Woord, in besonder die Evangelies waar ons Jesus se woorde en dade kan volg en Hom so beter kan leer ken.
Ek het besluit om elke dag, as deel van my stiltetyd, ook 'n gedeelte uit een van die Evangelies te lees om my te help om Jesus beter te leer ken. Vanoggend lees ek in Johannes 10:14 waar Jesus sê: "Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My ..."
Dís waaroor dit gaan: dat ons Hom sal ken. Dán eers kan ons die vraag van WWJD regtig begin antwoord.
|
|
Laas Opdateer op Maandag, 09 November 2009 22:03 |
|
|
|
|
|