Banier
WELKOM!   INLIGTING   DIENS   AFLAAIE   PREKE   LEES   KYK   TROUES   SKAKELS
Home You are here Tuiste LEES Seisoene in die Kerkjaar Epifanie
 

Lydenstyd


Teken aan




   Login reminder    Register

Teks van die dag

Die Here is my Herder, Hy sorg vir my, ek het genoeg van alles. (Ps 23:1, Die Bybel vir almal)

Gebedsprogram

Die Church of England het 'n baie sinvolle daaglikse gebedsprogram. Dit is hoogs aan te beveel!

Kommentaar

 
   
Epifanie PDF Afdruk E-pos

In die Westerse Katolieke tradisie word Epifanie op die Sondag die naaste aan 6 Januarie gevier. Die naam epifanie is van die Griekse woord ‘epiphanos’ afkomstig wat openbaarmaking of bekendmaking beteken. Op dié dag vier die Kerk dan ook die aankoms van die Drie Wyse Manne in Bethlehem en hul aanbidding van die Christuskind – hiermee is die nuus dat die Heiland van die wêreld gebore is ver buite die grense van die Joodse land uitgedra. Volgens oorlewering was die Drie Wyse Manne eintlik drie konings en in baie tale is daar tradisioneel na dié fees as die Driekoningefees verwys (In Duits Dreikönigen, in Nederlands Driekoningen, in Spaans La Fiesta de Reyes). As gevolg van verskille in die onderskeie Kerkkalenders wat gevolg is, is dié fees op verskillende tye deur die Oosterse Ortodokse en Westerse Katolieke gevier. Vandag volg die meeste Oosterse kerke egter die Westerse kalender. In sommige Oosterse Ortodokse kerke word dié fees onder die naam van Theophanos op die 19de Januarie gevier.

Epifanie vorm die hoogtepunt en afsluiting van die Kerstyd. Dit val op die twaalfde dag van Kersfees (in sommige kulture ’n tyd van groot feestelikheid – die beroemde Twelfth Night van Shakespeare dui op dié ou Katolieke tradisie). Streng gesproke is die dag vóór Epifanie die twaalfde dag van die Kersseisoen. Die fees het sonder enige twyfel in die Oosterse Kerk ontstaan. ‘n Baie ou tradisie in Jerusalem vertel van ’n bedevaartstog wat elke jaar op die vooraand van dié fees vanaf Jerusalem na Bethlehem plaasgevind het en die volgende dag weer na Jerusalem teruggekeer het. In sekere Suid-Amerikaanse lande word Kersgeskenke op Epifanie gegee en nie op Kersfees self nie. Deur die besoek van die Wyse Manne en die geskenke wat hulle aan die Christuskind gebring het op liturgiese wyse te herdenk vestig die Kerk ons aandag op die impak wat God se menswording op alle volke het. Die Wyse Manne (volgens oorlewering was hul name Kasper, Melkior en Baltazar) was die eerste heidene (nie-Jode) om Jesus as koning te erken en die knie voor Hom te buig. Die menswording van God wat ons op Kersfees begin vier bereik met dié fees ’n hoogtepunt. Die tema van hierdie belangrike liturgiese viering fokus tradisioneel op die sending van die Kerk om die Here Jesus Christus aan die hele wêreld te openbaar.

Die menswording van Christus is die kern waaroor dit in Epifanie (en natuurlik met Kersfees) gaan. Die eerste Sondag nä Epifanie fokus op Christus se doop, en op die Sondae daarna word die klem gelê op wat Jesus hier op aarde geleer en gedoen het. Dit is 'n tyd wat gewy word aan die bestudering en viering van die Een wat onder ons kom woon het. Daar word dikwels klem gelê op die bestudering van die bergrede; daarom dink Protestantse kerke tydens Epifanie veral na oor die sosiale implikasies van Jesus se lewe en leringe.

Epifanie word afgesluit met Verheerlikingsondag, wanneer Jesus se verheerliking op die berg herdenk word. Verheerlikingsondag lei die tyd in wat tot Jesus se kruisdood en opstanding sou lei (Lydenstyd, wat begin met Aswoensdag).

 

Lewer jou kommentaar hier, asb.


Sekuriteitskode
Verfris

Kopiereg © 2012 Toringkerk NG Gemeente. Alle Regte Voorbehou.
Joomla! is Gratis Sagteware en word kragtens die GNU/GPL Lisensie vrygestel.
Top