 |
|
 |
|
|
|
Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. (Kol 1: 27b, 28) |
|
|
|
|
|
|
 |
|
 |
|
|
|
Geskryf deur Jaco Thom
|
|
Sondag, 15 Augustus 2010 00:00 |
Ons is nou in die tyd van Ramadan, wanneer miljoene Moslems van oor die hele wêreld ’n volle maand lank vas. In dié tyd mag hulle niks kos of water oor hulle lippe neem terwyl die son skyn nie. Maar vas is nie net iets wat die Moslems doen nie. Om die waarheid te sê, lank voordat Islam as godsdiens ontstaan het, was die gebruik van vas al bekend. Ons lees dikwels daarvan in die Bybel ook, veral in die Ou Testament. Jaarliks tydens die Groot Versoendag
moes elke Jood gevas het. Later het nog ander voorgeskrewe vastye bygekom, maar die Jode het ook uit vrye wil gevas, bv as hulle hartseer was as uitdrukking van rou, of om hulle skuld te bely of as teken van verootmoediging, of om God se leiding of hulp te soek.
Dié gebruik het by die Fariseërs in ’n soort statussimbool ontaard. Hulle het elke Maandag en Donderdag gevas (julle ken almal die gebed van die Fariseër in Lukas 18:9-14, waar hy by God spog oor hoe hy twee keer per week vas).
Dis interessant dat Jesus nie gevas het nie. Daar is mense wat sê Hy het gedurende die veertig dae in die woestyn gevas, maar dit kon ook wees dat Hy bloot niks gehad het om te eet nie. Ons weet nie. Ons weet wel dat Hy nie tydens sy openbare bediening gevas het nie, en dat Hy nie positief daaroor was dat die Fariseërs ’n groot ding daarvan gemaak het nie (Matt 6:16-18). En dít is die agtergrond van ons gelese gedeelte. As die volgelinge van Johannes Jesus verwyt omdat sy dissipels nie vas soos die gebruik was by baie eng godsdienstige Jode van hulle tyd nie, sê Hy nie dat vas onnodig is nie (Matt 9:15). Hy sê daar sal ’n tyd kom dat sy dissipels weer sal vas (hiermee het Hy heel waarskynlik na sy kruisdood verwys, en die tyd toe Hy in die graf was). Maar terwyl Hy by hulle is, is dit ’n feestyd, en ’n mens vas nie terwyl daar fees is nie.
Met die twee beelde wat Jesus dan gebruik, dié van nuwe lap op ou klere, en nuwe wyn in ou sakke, onderstreep Hy dat sy koms ’n nuwe ere van leef voor God gebring het; een waarin die vreugde van kind van God wees die heersende ondertoon is. Hy wil met die beelde sê: jy kan nie die godsdiens van die Jode met Christelike geloof “lap” nie. Die ou, strak denke van die Fariseërs oor geloof en die lewe voor God kan nie reggedokter word met ’n paar verstellings hier en daar nie. Jesus se nuwe lewe voor God vra ’n nuwe manier van dink oor geloof, ’n lewe van vreugde vanuit ons verlossing en vergifnis. As jy Jesus wil volg en terselfdertyd vasklou aan ’n ou manier van dink oor God en geloof, gaan jy Jesus verloor, én jy gaan jou godsdiens opmors.
Ons kan dus nooit vas op dieselfde manier waarop die Jode gevas het, of waarop die Moslems vas nie, want dit is ’n uitgediende manier van dink oor wat dit beteken om te vas. Daarom kan vas ook nie ’n nuwe godsdienstige wet of reël vir ons word nie. Vas mag nooit ’n manier wees om God se arm te draai of sy guns te probeer wen of Hom van jou vroomheid te oortuig nie, want dit skreeu teen die blydskap van ’n lewe as verloste kind van God.
Mag ons dan hoegenaamd vas? Behoort ons te vas?
In die lig van wat Jesus hier sê, sal ek versigtig wees om ’n woord soos “behoort” of “moet” te gebruik as ek van vas praat. En die rede waarom ’n Christen vas, sal ook altyd anders wees as dié van die Ou Testamentiese gelowiges. As ons vas, moet dit gaan om ’n verdieping in ons geloofslewe, ’n verinniging in ons verhouding met Christus, ’n dieper verstaan van God en sy werk in ons lewe en wêreld, ’n hernuwing van ons geloofsvreugde as Koningskinders. As ons vas, moet dit wees om ons te help om skerper te fokus op Jesus se verlossingswerk, om Hom beter te kan navolg.
So waarom vas ons? Nie sodat ons vir God iets daarmee wil sê, om Hom te beïndruk of te oortuig van ons opregtheid of berou nie. Ons vas nie ter wille van God nie. Ons vas ter wille van onsself, ons geloofslewe. Om te vas, is ’n tegniek, ’n hulpmiddel wat ons kan gebruik om ons te help om nader aan God te leef en beter op sy teenwoordigheid in jou lewe te fokus. Daarom gaan vas altyd gepaard met ’n verdieping in jou Bybelstudie en stiltetyd. Vas kan nooit op sy eie staan nie.
Só gesien kan vas ’n goeie ding wees, want ons het almal hulp nodig om ons te help om die Here goed te hoor en om Hom daagliks te kan volg. Dit sê die Here Jesus ook in ons gelese gedeelte van gebed, en sê Hy jy moet jou afsonder; na jou kamer gaan en die deur toemaak as jy bid; nie net sodat jou gebede nie ’n openbare vertoon word soos dié van die Fariseërs nie, maar ook sodat jy kan stil word om God te hoor. In ons moderne samelewing en leefstyl is dit moeilik om stil te word, maar as jy nie tyd maak om stil te word nie, gaan jy God moeilik hoor. Soos iemand in die week sê: as jy God wil hoor, moet jy nie haastig wees nie, want God laat Hom nie aanjaag nie. Verwyder al die dinge wat jou aandag kan opeis: skakel jou selfoon af, skakel jou rekenaar se skerm en luidspreker af, haal jou telefoon van die mikkie. En vat dan jou Bybel en lees, rustig, en laat die Woord toe om met jou besig te raak. Ek dink deel van ons probleem is dat ons haastig is om by die boodskap van die gedeelte wat ons gelees het, uit te kom, en dan gryp ons na ’n dagboek om ons te help. Maar dan hoor ons net wat iemand ánders in die gedeelte by God gehoor het; nog nie wat God vir jóú wil sê nie.
Ek weet, ek weet. Die moderne lewe het nie eintlik genade met ’n mens nie, en tyd is kosbaar. Maar sonder tyd gaan jou verhouding met God sukkel, en gaan jy sukkel om God goed te hoor.
’n Mens kry ook gebedsprogramme om jou te help. So is daar ’n program Bid die Ure wat jou lei om vaste gebedstye elke dag te hê, elke drie uur, met verskillende soorte gebede op die verskillende ure of gebedspouses. Dis ’n eeue oue gebruik wat in die vroeë kerk ontstaan het, sodat jou dag gevul word met die teenwoordigheid van God (Jimmi le Roux).
’n Ander manier om bewustelik in God se teenwoordigheid te leef, is die sg “Minuut-speletjie” wat deur Frank C Laubach ontwerp is. Dit kom daarop neer dat jy maniere vind om jou vir ’n oomblik, een keer elke minuut van die dag, aan God se teenwoordigheid te herinner. Dit kan ’n kruis om jou nek wees, of ’n Bybel op jou lessenaar. Dit kan ’n leë stoel in jou kantoor wees waarop jy jou voorstel die Here sit om jou te ondersteun en vir Wie jy kan leiding vra. Hy raak jou onsigbare wandelgenoot as jy stap, of jy praat met God oor elkeen wat jy teëkom. Aan die begin gaan dit moeilik, maar namate jy jou daarin oefen, kom dit al meer vanself dat jy gedurig bewustelik in God se teenwoordigheid leef.
Om af te sluit: ’n mens kan verskillende maniere gebruik om jou te herinner dat jy in die teenwoordigheid van die hemelse Bruidegom leef. Vas kan een daarvan wees, en dit hoef nie net te beteken jy hou op eet in die dag (soos die Jode dit verstaan het) nie. Daar is baie ander vindingryke maniere waarop vas sinvol kan wees: jy los lekkers/sjokolade, staak sepie-kyk, of gee iets anders op. Of jy kan uitreik na ander. Dis hoe God vas beskryf in Jes 58:6-7: Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Mag jy met vreugde elke dag in God se teenwoordigheid leef! |
|
Laas Opdateer op Vrydag, 17 Februarie 2012 20:53 |
Lewer jou kommentaar hier, asb.
|