Banier2.jpg
WELKOM!   INLIGTING   DIENS   AFLAAIE   LEES   KYK   TROUES   SKAKELS
Home You are here Tuis > Preke > Gen 1 Die Bybel, die wetenskap en die skepping
 

Pinkster

Teken aan




   Login reminder    Register

Teks van die dag

’n Lewe wat afgesonder is vir God is presies waaroor godsdiens gaan.
(Romeine 12:1, Die Boodskap)
 
   
Gen 1 Die Bybel, die wetenskap en die skepping PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jaco Thom   
Sondag, 29 Augustus 2010 11:22
In die gesprek tussen die kerk en die wetenskap is daar oor min dinge al meer verskil en debatte gevoer as juis oor hierdie gedeelte wat ons nou saam gelees het: Die verhaal van die skepping. Geoloë sê vir jou dat hulle studies daarop dui dat die wêreld oor ’n tydperk van miljoene jare “ontstaan” het, gevorm is, voordat hy in die vorm gekom het wat ons vandag ken. Daarom skep die tydsindeling van Gen 1, as sou die aarde in 6 dae geskep gewees het, vir hulle allerlei probleme. Volgens hulle bots die Bybelse skeppingsverhaal met hulle wetenskaplike ondersoeke. Ag, en so kan ’n mens aangaan. Wetenskaplik gesien, is dit ’n vraag hoe daar lig kon wees op die eerste dag, terwyl die son en maan en sterre eers op die 4de dag geskep is. Of hoe die groen plante kon voortbestaan sonder die sonligenergie wat hulle so nodig het vir fotosintese – Gen 1 sê die groen plante is al op die derde dag geskep, en dus voor die son, wat eers op die 4de dag geskep is.

Maar as ’n mens met al hierdie vrae na die Bybel kom, is jy baie onbillik teenoor die Bybel, want die Bybel is nie geskryf om ’n handboek vir die wetenskap te wees nie, of om vir ons haarfyn te vertel hoe die wêreld tot stand gekom het of werk nie. Nee, die Bybel is daar om vir ons iets van God te vertel, en van ons verhouding tot Hom, en hoe ons Hom moet dien. ’n Mens kan dit amper vergelyk met ’n ou wat ’n verskriklik siekte onder lede het, en dan na die dominee gaan om te hoor wat hy makeer, in plaas van na die dokter. Die dominee sal natuurlik nie vir die siek man ’n presiese antwoord kan gee oor sy maagpyn nie! So gee die Bybel nie vir ons ’n antwoord op wetenskaplike vrae nie.

Om hierdie hele probleem beter te verstaan, moet ’n mens iets verstaan van wat die Bybel is, en die manier waarop die Bybel ontstaan het. Die Bybel, of in elk geval hierdie deel van die Bybel, is nie van die begin af geskryf nie, maar aanvanklik vertellinge was wat die ou mense aan die jongmense oorvertel het. Nou ja, ’n vertelling is natuurlik iets heeltemal anders as ’n geskiedenis- handboek wat probeer om al die nodige inligting haarfyn en wetenskaplik korrek weer te gee. ’n Vertelling probeer nie volledig wees nie; dit wil eerder ’n prent met woorde teken om die boodskap oor te dra. In ’n vertelling word een of twee dinge meer beklemtoon as die res van die feite, en sommige onbelangrike dinge selfs uitgelaat, omdat die vertelling ’n boodskap wou oordra aan hulle wat geluister het. ’n Mens kan die verskil tussen ’n vertelling en ’n geskiedenisboek vergelyk met die verskil tussen ’n skildery en ’n foto van dieselfde toneel. Terwyl die foto haarfyn elke ding wat die kameralens gesien het, vaslê, is ’n skildery glad nie so nie. Die skilder probeer nie alles op die doek skilder wat hy sien nie; hy probeer net die indruk van wat hy gesien het, vir die kyker oordra. Daarom kan hy sommige gegewens weglaat, of ander dinge meer beklemtoon en groter skilder as wat dit regtig is, sodat hy daarmee ’n gevoelstemming of gedagte op die doek vaslê.

So is dit ook met die Bybelse skeppingsverhaal, of miskien moet ek liewer sê, die lied oor die skepping. Dit is amper soos ’n skildery. Dit probeer nie vir ons haarfyn sê presies hoe God alles gemaak het en presies wanneer Hy wat gemaak het en hoe lank elke ding geneem het om gemaak te word nie; nee, die Bybel wil eerder vir ons deur hierdie skeppingsverhaal ’n boodskap oordra. En hierdie boodskap is:

  • God het alles gemaak wat bestaan – die aarde, die hemel, die son en maan en sterre en planete, die berge, klippe, bome en blomme, die goggas en diere, die visse en voëls, en ook vir ons.
  • God het dit alles op ’n wonderlike, ordelike manier geskep. Dit doen hy bv deur die struktuur van die dae, waarin die eerste 3 dae die voorbereiding is vir wat in die laaste drie dae geskep word:
  • God het alles baie goed gemaak. Ons lees dit oor en oor: God het gesien dit is goed. (4,10,12,18,21,25) En dan, aan die einde van die skeppingsberig, word dit nog ’n keer herhaal: Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. (31) Sewe keer staan dit hier! Hierdie wêreld waarin ons lewe, broer en suster, is goed deur God gemaak. Dit is wonderlik gemaak. Ongelooflik wonderlik. Dit wil Gen 1 vir ons vertel.
  • Die mens is ’n baie spesiale deel van God se wonderlike skepping. Oor alles wat God gemaak het, staan daar net: God het gesê: Laat dit so wees, of laat daar sulke diere wees, of laat daar visse in die see wees, en dan gebeur dit net so. Maar toe die mens geskape is, word die verhaal heeltemal anders vertel, omdat die verteller wil hê ons moet weet hier is nou iets spesiaals in God se skepping. Hier is die hoogtepunt van alles wat God gemaak het. Die mens is so spesiaal, dat God nie maar net die mens se skepping in ’n paar woorde afhandel, soos Hy met die res van die skepping gemaak het nie. Nee, Hy beplan eers sorgvuldig wat Hy gaan doen. Dit is soos wat ’n vrou maak as sy ’n baie spesiale ete wil voorberei. Ander dae maak sy die ete sommer so in die verbygaan, besluit sy sommer so in die voorbereiding van die ete watter soort groente sy gaan gaarmaak, en watter soort slaaie, ens. Maar as daar spesiale gaste kom, dan beplan sy die ete haarfyn vooraf, om seker te maak alles sal reg wees en by mekaar pas en so. So het God ook gedoen toe Hy die eerste mense geskep het: Hy het eers beplan wat Hy wil maak. Vs 26 sê: Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” Wonderlik, nie waar nie? Ons is nie sommer toevallig hier nie, ons is nie per ongeluk wat ons is nie, sommer ’n natuurfrats, die produk van evolusie nie! Ons is selfs nie eers so in die verbygaan deur God gemaak nie. Ons is God se meesterstuk! Ons is hier omdat Hy ons hier wil hê, omdat Hy ons spesiaal gemaak het, omdat Hy ’n spesiale doel vir die mens in sy skepping het.
Die wetenskap hét baie te sê oor die skepping en hoe dit tot stand gekom het, en ons kan maar luister na wat hulle te sê het. Maar die Bybel het óók baie te sê oor die skepping, en oor ons plek in die wêreld, oor God se plan met ons, en ons verantwoordelikheid teenoor Hom en teenoor die aarde.

Kom dan, kom ons leef elke dag as sy spesiale skepsels, as die hoogtepunt van sy skepping! Kom ons gee Hom rede om trots te wees op ons, sy pronkstuk! Kom ons dien die Here met blydskap! Hy het ons mos gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde.

Amen.
Laas Opdateer op Vrydag, 17 Februarie 2012 20:52
 

Lewer jou kommentaar hier, asb.


Sekuriteitskode
Verfris

Kopiereg © 2012 Toringkerk NG Gemeente. Alle Regte Voorbehou.
Joomla! is Gratis Sagteware en word kragtens die GNU/GPL Lisensie vrygestel.
Top