|
Ek lees in die week van ’n ou Joodse legende wat vertel van twee rabbi’s wat met mekaar gedebatteer het oor die vraag of die Messias nie dalk al na die aarde gekom het nie. Hulle het die Skrifte en die wyses aangehaal, en hierdie kant toe en daardie kant toe geredeneer, maar nie een kon die ander régtig oortuig van sy standpunt nie, totdat die een rabbi later opstaan en na die venster toe gestap het en vir sy vriend gesê het: “Kyk buitentoe. Kyk hoe lyk die wêreld! As die Messias reeds gekom het, sou dit nie só gelyk het nie.”
Miskien voel jy ook só vanoggend. Dit is Kersfees. Christus het na hierdie wêreld gekom. Ons herdenk dit vandag weer. En tog ... As jy deur die venster na die wêreld daar buite kyk, lyk dit so asof niks verander het sedert Christus se koms nie. Daar is so baie probleme in die wêreld – polities, sosiaal, ekonomies, klimatologies. Dink maar aan die drama in die EU-lande oor die finansiële verknorsing waarin party van sy lede is. Dink aan die Polokwane-drama van die afgelope paar dae. Dink aan die COP17-beraad oor klimaatsverandering. Dink aan die slagting op ons paaie. Die wêreld is deurmekaar. Mens hoef nie eers deur die venster te kyk nie. Jy kan maar net op TV na ’n nuusuitsending kyk.
Dan praat ek nie eers van persoonlike probleme nie: siekte, hartseer, werkspanning, verhoudings wat sukkel ...
Die vraag van die rabbi is in sulke omstandighede nie vreemd nie. Waar sien ons God se teenwoordigheid wat met Jesus se geboorte aangebreek het?
Johannes vertel vir ons in sy heel eerste hoofstuk al daarvan. Hy skryf hier (1:10-11): “Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”
Van die begin af al was dit so. Mense het na Jesus gekyk en nie vir God gesien nie, net soos die rabbi by die venster uitkyk en nie die Messias sien nie. Hy was vir jare in Palestina, en tog het die mense dit nie gesien nie. Hulle het die opsienbarende verwag, die opspraakwekkende. Jesus het self gesê die mense stroom agter Hom aan, net om wonderwerke te sien. Die ironie is dat Hy wél wonders gedoen het, maar dat dit op die ou end nie vir die mense genoeg was nie. Daarom skreeu hulle uiteindelik: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
As jy vanoggend deur die venster kyk en God se teenwoordigheid in die opspraakwekkende en opsienbarende soek, sal jy waarskynlik ook teleurgesteld wees. As die Kersverhaal vir jou net ’n storie in die Bybel is, selfs ’n mooi en hartverwarmende storie, sal jy ook teleurgesteld wees, want vanmiddag ná die Kersmaal, as die mense weer begin ry en jy met die vuil skottelgoed sit, is Kersfees verby, is die opwinding van die gebeure iets van die verlede, en sal jy met ’n wrang smaak wonder waar jy dit dan gemis het.
Miskien is dit hoekom Angelus Silesius gesê het:
En al word Christus
’n duisend maal
in Betlehem gebore
en nie in jou nie
dan bly jy verlore.
Johannes wil dit ook vir ons sê. Hy skryf van die talle wat na Christus gekyk het en God nie herken of erken het nie (NLV vers 11), en dan sê hy: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” En in ’n volgende vers (14) voeg hy by: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”
Toe ek oor hierdie teks gedink het, het ek gedink waar ek die afgelope paar dae vir God gesien het.
? Ek het ’n berig in die koerant gelees wat sê die Christendom groei vinniger as Islam, en is steeds die grootste godsdiens in die wêreld. Ons het in die jaar iets daarvan gesien in die berigte van Wolf Cilliers oor die kerkgroei in Madagaskar, nie waar nie?
? Ek was in die week by ’n bejaarde wat alleen in haar huis bly. Sy sukkel met haar rug, maar sy glimlag toe ek vra hoe dit gaan. Die Here is elke oomblik by haar, sê sy.
? Ek het dit in die hospitaal beleef by ’n lidmaat wat baie siek is. Hy vertel vir my dat die siekte hom tot stilstand gebring het en hy net weer besef het hoe nodig hy die Here het.
? Ek beleef die Here in die wonderlike musiek wat ons in die Kerstyd sing en luister. Daar is iets van God in musiek.
? Ek het die Here in my stiltetyd opnuut ontmoet in die week. Jy sekerlik ook.
? Ek het iets van die Here se oneindige goedheid en genade vanoggend weer beleef by die doopvont, waar God uitreik na ’n baba, lank voordat hy na God kan vra.
Dis wat Johannes in hierdie hoofstuk vir ons wil sê: dat God op ánder maniere sigbaar word as wat ons sou dink en selfs sou verkies. God word sigbaar, sê Johannes vir ons in vers 18, in Jesus. “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.”
Ek onthou nou ’n grappie uit my kinderjare, van die man wat in die nag vreeslik soek na iets onder die straatlig. ’n Polisieman kom nader en vra wat hy soek, en hy sê hy soek sy beursie. Die polisieman wou hom help soek en vra toe min of meer waar het hy die beursie verloor. Toe sê hy dit was nie daar onder die lig nie, dit was laer af in die straat. Die polisieman vra toe hoekom hy dan nie daar soek nie, toe sê hy nee, dis te donker daar. Hy soek liewer hier in die lig waar hy goed kan sien.
Ek is bevrees, baie mense mis vir God omdat hulle na Hom op die verkeerde plekke soek; op die plekke waar húlle meen hulle Hom makliker sal sien. Soos die rabbi’s. En dan kry hulle Hom nie, en sê daar is nie ’n God nie, of Hy stel nie in hulle belang nie. Johannes sê: kyk na Jesus. Kyk na ’n babatjie in ’n krip in Betlehem. Kyk na ’n seun wat in die tempel sit en met die teoloë oor God gesels. Kyk na ’n man wat tyd het vir ’n blinde bedelaar, of ’n verwarde vrou langs ’n put. Wat nie mense honger wil wegstuur nie. Wat by die graf van ’n vriend staan en huil. Wat vir mense vertel van God se liefde, en dit uitleef. Wat aan die kruis bid dat God sy haters moet vergewe. Wat uit die dood opgestaan het en lewe! Wat belowe het dat Hy by ons is, al die dae, tot die voleinding van die wêreld.
Kyk na Jesus. Hý wys ons hoe God lyk. Kersfees jubel dit uit dat God hierdie wêreld, vir jou en vir my, liefhet. Uit sy volheid ontvang ons almal ’n oorvloed genade!
Mag jy ’n besondere, geseënde, genadige Kersfees hê. Amen. |