Banier2.jpg
WELKOM!   INLIGTING   DIENS   AFLAAIE   LEES   KYK   TROUES   SKAKELS
Home You are here Tuis > Werd om te lees > Ek bedank as Christen
 

Pinkster

Teken aan




   Login reminder    Register

Teks van die dag

’n Paar dinge hoort bymekaar: Troue liefde en gehoorsaamheid aan God kan nooit van mekaar losgemaak word nie. Om dinge te doen soos wat die Here wil hê, en om sy vrede te ken, hoort ook saam. (Ps 85:11, Die Boodskap)

 
   
Ek bedank as Christen PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Johannes de Villiers   
Dinsdag, 03 Augustus 2010 08:51
Rapport 2010-07-31 23:50
Anne Rice
Daar is ’n toenemende neiging dat mense hul kosbaarste verhoudings op Facebook verbreek.
Soms sal ’n man sy nooi afsê deur sonder waarskuwing sy Facebook-verhoudingstatus na “enkellopend” te verander. Soms sal ’n kwaai vrou op haar kêrel se profiel skryf sy steek hom in die pad, sodat al sy vriende dit moet weet.
En die afgelope week het die skrywer Anne Rice, eens beroemd om haar topverkopers oor vampiere, maar deesdae meer geliefd vir haar Christelike skryfwerk, haar Facebook-profiel gebruik om sommer die Christendom in sy geheel af te sê.
Rice se bekering tot die Christendom was die laaste jare ’n groot storie in die boekewêreld. Eers was sy bekend om haar kwasi-erotiese gotiese grillers soos Interview with a Vampire en Queen of the Damned (in dieselfde asem as Stephen King se werk genoem), maar sedert sy haar 12 jaar gelede tot die Katolisisme bekeer het, het sy haar op geestelike literatuur toegespits. Haar roman Christ the Lord is oor Jesus se jeugjare en haar latere Called out of Darkness: A Spiritual Confession is me­moires oor haar vervroming.
So bid jou aan die skok van haar 85 000 oorwegend Christelike Facebook-vriende toe Rice Woensdag op haar profiel (waar sy dikwels Bybelversies plaas) skryf:
“Ek is uit. Ek bly toegewy aan Christus soos altyd, maar ek is nie meer ’n ‘Christen’ of deel van die Christendom nie. Dis net vir my onmoontlik om tot dié ba­klei­erige, stryerige, vyandige en tereg berugte groep te ‘behoort’. Ek het tien jaar probeer. Ek het misluk.”
In ’n Suid-Afrikaanse konteks: Verbeel jou Marzanne Leroux-Van der Boon of Maretha Maartens kondig aan hulle verlaat die Christendom. Dit is wat hier gebeur het.
Terwyl die meeste mense sukkel om iemand te kry wat belangstellend na hul geloofsworstelinge wil luister, het USA Today en The Guardian oor Rice se aankondiging berig.
Baie mense het gesukkel om haar “ja-vir-Christus-maar-nee-vir-dieChristendom”-boodskap te snap.
Die volgende dag was sy terug op Facebook: “In die naam van Christus weier ek om anti-gay, anti-feministies, anti-voorbehoedmiddels, anti-Demokraat, teen die sekulêre humanisme, anti-wetenskap en ­anti-lewe te wees. In die naam van Christus bedank ek uit die Christendom en Christenskap.”
En nog een: “My bekering (12 jaar gelede) vanaf ’n pessimistiese ateïs, verlore in ’n onverstaanbare wêreld, tot ’n optimistiese gelowige in ’n heelal wat deur ’n liefdevolle God onderhou word, bly kernbelangrik vir my.”
Daar was meer as 1 000 lesers­reaksies op elkeen van haar stellings. Party was skepties en het haar beskuldig van ‘n “growwe in­di­vi­dua­lisme; die geloof dat alles net oor jouself en Jesus gaan”.
Aanhangers van haar ouer, sondige vampierromans was weer opgewonde. “Beteken dit hier kom nou weer warm en wulpse Exit to Eden-soort stories?” wou een weet.
En een het gesê wat sy voorstel, is onmoontlik: “Hoe kan jy in Christus glo en nie ’n Christen wees nie? Dalk wil jy nie amptelik lidmaat word van enige kerk nie, maar as jy in Christus glo, is jy ’n Christen, of jy dit wil weet of nie. Ek self glo in Odin en die ou gode van Noord-Europa; dit maak my ’n heiden. Dit sou laf wees om te sê ek glo in die ou gode van Noord-Europa, maar is nie ’n heiden nie.”
Laf? Dalk, en tog is daar ’n magdom mense, ook in Suid-Afrika, wat geluide soos Rice maak. Peilings toon die meeste Afrikaanse Christene woon selde kerk by.
Een van die skeptici oor Rice se stellings is prof. Adrio König, be­kende Suid-Afrikaanse teoloog.
“Kan sy so sonder ’n verband met ’n kerk ’n gelowige wees? Ja, maar beswaarlik. As sy bedoel sy bly ’n volgeling van Jesus, sal sy moet uitmaak waarom Hy altyd ’n groep om Hom vergader het, en waarom die vroeë kerk altyd in groepe (gemeentes) bestaan het. Getrou aan Jesus sal iemand altyd ’n gemeenskap opsoek, al is dit ook ’n klein groepie. Dis ’n kans om jou gawes te deel. Anders belê Jesus verniet in jou.”
Jean Oosthuizen, moderator van die webwerf Kletskerk, waarop mense oor geloof gesels al is talle nie Christene nie, het ’n ander siening.
“Wat met Rice gebeur het, is nie vreemd nie. Baie Suid-Afrikaners distansieer hulle stilweg van die Christendom of die georganiseerde godsdiens sonder om ateïste te word. As mens kyk na die liefdelose optrede van sommige Bybelboelies verbaas dit nie. As Jesus vandag gelewe het, sou hy waarskynlik twee keer gedink het voordat hy homself ’n Christen sou noem.”
Laas Opdateer op Donderdag, 12 Augustus 2010 12:23
 

Lewer jou kommentaar hier, asb.


Sekuriteitskode
Verfris

Kopiereg © 2012 Toringkerk NG Gemeente. Alle Regte Voorbehou.
Joomla! is Gratis Sagteware en word kragtens die GNU/GPL Lisensie vrygestel.
Top