 |
|
 |
|
|
|
Om die regte dinge te doen en te sê, is vir die Here baie belangriker as ’n groot dankoffer. (Spr 21:3, Die Boodskap) |
|
|
|
|
|
|
 |
|
 |
|
|
|
Geskryf deur Jimi le Roux
|
|
Saterdag, 14 Augustus 2010 14:48 |
Te besig vir bid? Leer om jou dag met vaste gebedspouses te vul – en ervaar hoe jou doen en late in ritme kom met God.
Diep in jou hart begeer jy om stiller, stadiger en nader aan God te leef – maar teen die spoed wat jou wêreld op sy as tol, oorleef jy op weinig meer as skietgebede en stres. Jy kom nie eens by jouself uit nie – wat nog te sê van God! Of jy leef só met jou kop in more se dinge dat vandag ongesiens onder jou voete uitglip. Dis ’n geloofsdaad om môre aan die Here oor te gee en vandag te leef in die eenvoudige vertroue dat Hy daar is, en dat Hy sorg. Een manier om met jou hand stywer in God s’n te stap, is om by die antieke Kerk te leer oor die dissipline van daaglikse gebedspouses – ook genoem Die Ure. Dié gebedsritme help ons om sewe keer ’n dag vir ’n oomblik halt te roep, aan die Here te dink en met Hom te praat. So vind ons weer ons ritme saam met God. Elke gebedsuur het sy eie gevoel en boodskap, en elkeen verteenwoordig ’n fase in ons lewensiklus (van geboorte tot sterwe) asook ’n moment langs Jesus se lydensweg (van Sy verloëning tot Sy opstanding). Die dag-ure het te doen met werk, terwyl die nag-ure met rus en herstel te doen het. Die Ure help ons nie net om te bid nie, dit help ons om te lééf: Dit herinner ons om voluit te werk, maar ook om volkome te rus. Dit herinner ons dat werk nie alles is nie, dat ons ook moet kan laat gaan en God moet vertrou om Sy deel te doen. Hoe jy bid, maak nie saak nie. Solank jy vir ’n oomblik stop om jouself opnuut te herinner waaroor hierdie dag en sy duisend dinge nou eintlik gaan – oor God, die Een wat jou Syne noem. Hier is ’n voorbeeld van hoe jy Die Ure kan bid:
06:00 LAUDE (“LOF”)Volgens Bybelse tydsberekening, die eerste uur van die dag. Die dagbreek met sy wonderlike kleure is vol verwagting en opwinding. God skep ’n nuwe dag, propvol potensiaal! En soos die son opkom, so sal die Here ook oor jou skyn. Beskou elke sonsopkoms as ’n heilige oomblik, want God se grootheid en genade is aan jou bewys. Kyk hoe breek die dag, loof God vir Sy goedheid!
Geseënd is U, o Heer; die Ooste breek en baar die dag; die son, die seën die lewe wag! Wees U naby my. Amen
- Lees Psalm 113:1-3: “Prys die Here! Prys, dienaars van die Here, prys die Naam van die Here! Die Naam van die Here moet geloof word, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word!” (Nog verse vir meditasie: Psalm 5:1-4, Psalm 9U:14-17, Psalm 148:1-6.)
- Oordink Nog voor die dag begin en God enigiets vir jou gedoen het, verdien Hy om geprys te word vir Wie Hy is. Ondanks jou omstandighede, is Hy jou lof werd! Luister vir ’n rukkie na die voëltjies se loflied. Wat sê hulle vir God? Oordink Sy eienskappe en sê dit vir Hom. Maak dit ’n gewoonte om jou gebede met lof te begin, nie met versoeke nie.
- Lewensfase Geboorte
- Moment op Jesus se lydensweg Hy word verloën en verlaat (Markus 14:66-72).
09:00 TERCE (“DERDE UUR VAN DIE DAG”)Hierdie is die tyd van sterk begin, van geloof en krag. Dié tyd van die oggend is heerlik vars; als voel jonk en nuut. Die dagtaak het begin, maar ons is nog sterk en lus vir aksie. Ons put ons inspirasie uit ’n duidelike visie en ons weet wat ons moet doen om dit te bereik. Die beplanning is gedoen, en ons sal die doelwit bereik – ’n goeie dag lê voor! Asem die oggendlug diep in en voel hoe die Gees – God se Asem – jou vul met energie.
Geseënd is U, o Heer; die jong dag gryp die droom, bereid tot dink en doen en sweet en stryd. Wees U naby my. Amen
- Lees Psalm 118:24-26: “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees. Ag, Here, gee tog heil; ag Here, gee tog voorspoed! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Ons seën julle uit die huis van die Here.” (Nog verse vir meditasie: Psalm 25:5, Psalm 68:20; Jesaja 56:9-12; Jakobus 4:13-16)
- Oordink Hierdie dag is ’n eenmalige, Goddelike kans. jy kan kies of jy hierdie 24 uur wil gebruik of verloor. Gaan dus doelbewus met jou dag om. Gryp dit aktief aan! Werk hard. Kom nader aan jou doelwitte. Maar onthou, die dag wentel nie net om werk nie. Beplan ook vir ontspanning, groei, leer, verhoudings – ’n lewe in balans. Kies om te wandel in Sy weë, en die Here sal jou vandag heil en voorspoed gee.
- Lewensfase Jeug
- Moment op Jesus se lydensweg Kruisiging (Markus 15:22-23).
12:00 SEXT (“SESDE UUR VAN DIE DAG”)Hoogmiddag skyn die son direk van bo en is dit heerlik warm en lig. Ons werk hard en gefokus, daar’s reeds baie bereik. Dis nou ’n tyd om te dink aan God se werk en die Skepping wat Hy deur Sy woorde tot stand gebring het: “Laat daar lig wees!” Ons is diep bewus daarvan dat ons mede-skeppers in God se werk op aarde mag wees. Kyk op na die son. Voel sy warmte. Dank God vir Sy genade en goedheid oor jou. Dis Sy krag wat jou in staat stel om die regte ding op die regte tyd te doen sodat jy kan vermag wat jy moet. Jou bydrae maak ’n verskil!
Geseënd is U, o Heer; dis lig en in U lig skep ook ek die tuin en taak van hierdie plek. Wees U naby my. Amen
- Lees Genesis 2:19: “Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.” (Nog verse vir meditasie: Handelinge 15:28; 2 Korintiërs 6:1.)
- Oordink God maak jou ’n medewerker in Sy Skepping. As mens is jou skeppingsopdrag om in jou eie stukkie Tuin te heers – en God gee jou die nodige gesag daarvoor. Jy definieer self jou wêreld deur jou besluite en woorde. Omdat jy na God se beeld geskape is, het jy ’n kreatiewe vermoë. Onder God skep jy aan jou eie realiteit. Skryf in jou joernaal: “Ek werk met God. God werk met my.” Bepeins dit.
- Lewensfase Vroeë volwassenheid
- Moment op Jesus se lydensweg Sy Lig word donker (Markus 15:33).
15:00 NONE (“DIE NEGENDE UUR”)Laatmiddag, as die son flouer skyn, voel ons die tamheid intree. Ons besef dat die werk nooit klaar sal wees nie, dat more nog ’n dag is. Ons vra nou om die dag se porsie werk met verantwoordelikheid af te handel. Besluit wat jy vandag nog moet klaarkry en vra die Here vir krag. Besluit ook wat hierdie dag nié gedoen gaan word nie en laat vaar dit met vrede. Ook dit is ’n geloofsdaad.
Geseënd is U, o Heer; die dag is moeg, die rus in sig van doringwerk en disselplig. Wees U naby my. Amen
- Lees Psalm 127:1-2: “’n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir die wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” (Nog verse vir meditasie: Psalm 56:12; Prediker 2:24-25; Hosea 6:1-3.)
- Oordink Uiteindelik is dit nie ons werk wat die deurslag gee nie, maar die Here se guns en genade. Daar is dinge wat ons kan en moet doen – dan’s daar dinge wat net die Here kan doen. Soms is al ons harde werk verniet, want ons is nie in Sy wil nie. Dus, laat ons nie net werk nie, maar ook op Hom vertrou. Laat ons werk, maar ook bid. Laat ons werk, en dan die gevolge aan Hom oorlaat. En laat ons moeite doen om Sy Wil te verstaan.
- Lewensfase Laat volwassenheid
- Moment op Jesus se lydensweg Hy gee die stryd gewonne (Markus 15:34-39).
18:00 VESPERS (“AAND”)’n Tyd van danksegging. Die werk is oor; die rus begin! Ons kyk terug oor die dag en reflekteer – die aand is vol wysheid. Ons breek ook ons swaarverdiende brood: Ons eet, ons gesels en geniet die saamwees. Ons vier die dag! Die rus versterk ons vir die dag wat voorlê. Hoe gepas is dit nie dat ons ook in hierdie uur dink aan Jesus wat begrawe word nie: Sy “werk” is oor, Sy “rus” begin.
Geseënd is U, o Heer; die Weste’s rooi soos wyn en spieël, die dag, ons breek die brood en deel. Wees U naby my. Amen
- Lees Genesis 1:31: “Toe het God na alles gekyk wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het more geword. Dit was die sesde dag.” (Nog verse vir meditasie: Psalm 8:5-10, Psalm 103:13-18; Matteus 6:25-30.)
- Oordink Telkens as die Here iets geskep het, het Hy gesien dat dit goed was. Hy was tevrede met Sy werk. Net so moet ons leer om tevrede te wees met ons werk. Ons werk nie so volmaak soos die Here nie, maar ons kan ook terugkyk en verklaar dat dit goed is. Jy het jou bes gedoen – dis goed genoeg. Jy het gedoen wat jy gedink het die beste was in die omstandighede. Aanvaar dit nou. Vergewe jouself vir enige tekortkominge. Jy’s net n mens. Skryf dit neer.
- Lewensfase Aftrede
- Moment in Jesus se lydensweg Hy word in die graf weggelê (Markus 15:42-47).
21:00 COMPLINE (“VOLTOOI”)’n Tyd van rustigheid, aanbidding en oorgawe. Ook tradisioneel die tyd vir storievertel, vir lewenswyshede oordra – iets waarmee die ouer garde baie kan help. Sedert die vroegste tye is slaap as “die klein dood” beskou. Dié staat van “bewusteloosheid” was vir mense ’n raaisel, en voor die koms van elektrisiteit was die nag boonop ’n tyd van gevaar – daarom was dit belangrik om voor slaaptyd te bid. Ons slaaptydgebed herinner ons aan die “gentle art of dying”, die kuns om te laat gaan. Lê ontspanne in jou bed en aanbid die Here.
Geseënd is U, o Heer; die silwer maan straal in die nag sy slaap en alles rus en wag. Wees U naby my. Amen
- Lees Jesaja 40:30-31: “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs, maar die wat op die Here wag> kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
- Oordink Die Here leer ons dat ons op Hom moet wag. Dis baie belangrik, juis omdat ons so oorhaastig leef. Die lewensles hier is om stadiger te leef, met meer vrede en met groter vertroue. Wag ’n bietjie – wag op die Here. Lê in jou bed en luister na die naggeluide daarbuite. Besef dat die Here oral is: binne en buite, in vandag en ook in more. Los die toekoms vir Hom. Gee dit oor. Raak nou rustig aan die slaap.
- Lewensfase Hoë ouderdom
- Moment op Jesus se lydensweg Hy lê dood in die graf (Markus 16:1).
24:00 NOCTURNE (“NAGGEBED”)In die hartjie van die donker. Ons vrees dikwels die duister, maar die nag kan ons ook koester. Ons kan dit gebruik om na binne te keer en God in die stilte te vind. Dis ’n tyd vir introspeksie, meditasie en intimiteit. Die wonder van die nag is dat dit die dag inlui. Die einde is nooit die einde, maar die begin. So ook is die sterwe net ’n wedergeboorte tot ’n nuwe lewe.
Geseënd is U, o Heer; die doodse donker vrees ek nie; ek’s ewig naby, daar, by U, en U is naby my. Amen
- Lees Galasiërs 2:21-22: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
- Oordink Paulus sê: “Ek is dood”, omdat hy sy lewe gegee het aan Christus. Sterwe is oorgawe aan die niks, in die vertroue dat God ook daar sal wees. ’n Mens se wil het ’n aktiewe kant – dit wat ons kies om te doen – maar ook ’n passiewe kant: Daar waar ons oorgee aan God. Die geestelike lewe is ’n oefening in oorgawe, ja, in sterwe. Om te gaan slaap is ’n oefening in sterwe. Gee nou bewustelik oor aan God.
- Lewensfase Sterwe
- Moment in Jesus se lydensweg Sy opstanding (Markus 16:2-6)!
Wil jy rneer weet? Jimi le Roux is ’n leraar by Mosaïek-gemeente in Fairland, Johannesburg, en skrywer van Liturgie vir die lewe, ’n gebedsgids oor Die Ure. Hy bied ook kursusse hieroor aan. E-pos hom by
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
of kliek op www.jimileroux.com Lees ook Praying with the Church deur Scott McKnight, en The Divine Hours deur Phyllis Tickle.
WAAR KOM “DIE URE” VANDAAN?Reeds uit Bybelse tye ken ons die idee van voorgeskrewe gebed op vaste tye. Jesus het Sy dissipels die Onse Vader woordeliks geleer (Matteus 6:9-13) en die dissipels het saam met hul mede-Jode op vaste tye in die sinagoge gebid (Handelinge 3:1). In aansluiting met die Joodse gebruik het die vroeë Kerk oggend- en aandgebede voorgeskryf. Oor die eeue heen is dit geleidelik uitgebrei, totdat daar in die Middeleeue sewe of agt gebedstye per dag was, elk met sy eie liturgie. Die Hervormers Luther en Calvyn het weer die gebedstye kom vereenvoudig en dit in omgangstaal omgesit. (Dis byvoorbeeld waar ons oggend- en aanddiensorde vandaan kom.) Vandag gebruik die ou kerke steeds die vaste gebedstye – ook genoem The Hours of The Holy Office. In Katolieke kloosters word die Ure steeds daagliks gebid – sewe maal ’n dag. In die Anglikaanse tradisie word gebedstye beskryf in die Book of Common Prayer. Ook in Protestantse kringe word daar deesdae opnuut gekyk na die waarde van ’n geestelike ritme vir die lewe.
|
|
Laas Opdateer op Saterdag, 14 Augustus 2010 15:20 |
Lewer jou kommentaar hier, asb.
|