 |
|
 |
|
 |
September 2010 |
 |
|
|
|
Teks van die dag
Gelukkig kry God mense jammer, Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie. (Ps 78:38, Die Boodskap) |
|
|
Besoekers
| Vandag: | 9 | | Gister: | 120 | | Hierdie maand: | 576 | | Laasmaand: | 3510 | | Hierdie jaar: | 7038 | | Totaal: | 7038 | | Meeste/dag: | 249 | | Meeste/maand: | 3510 | | Sedert: | 2010-06-09 |
|
|
|
|
 |
|
 |
|
|
15.06.2010 11:30:29
|
Ek is op die oomblik besig met die Markus-Evangelie. In die lees raak ek toenemend bewus van Jesus se menslikheid. Ons relativeer maklik Jesus se lyding en sterwe vanuit die perspektief dat Hy ook ware God is, en, so verbeel ons onsself, dit beteken dat Hy sy lyding makliker kon hanteer. Twee goed wat ek vanoggend gelees het, het my opnuut laat besef hoe verkeerd dié opvatting is, en my weer Jesus se offer skerp laat verstaan. Die eerste is waar Hy oor die wederkoms praat asof dit nog in sy hoorders se leeftyd sou gebeur (Mark 13:30). Ons weet uit die goed wat in die sendbriewe geskryf is, dat die dissipels dit inderdaad ook so verstaan het. Toe ek daaroor nadink om te verstaan hoekom Jesus so iets gesê het, het dit my skielik getref: Hy was 'n mens, sonder die voordeel van alwetendheid. Daarom klink sy uitsprake hier baie soos dié van die profete, wat nie altyd goed kon onderskei hoe ver in die toekoms dít wat hulle voorspel, gelê het nie. In Jesus se voorspelling loop dít wat in 70nC gebeur het toe Jerusalem verwoes is, en dit wat met die wederkoms sal gebeur, ietwat deurmekaar, want as mens het Hy nie die twee uitmekaar kon haal nie, amper soos Johannes die Doper wat nie dít wat Jesus met sy eerste koms kom doen het, verstaan het nie omdat hy dít wat by die wederkoms sal gebeur, tóé al verwag het. En in 13:32 sê Jesus dit self ook: niemand weet wanneer dit sal gebeur nie, ook nie die Seun nie; net die Vader. Later lees ek van Jesus se worsteling in Getsemane (14:34ev), van sy doodsbenoudheid en sy smeking dat die Vader sy komende lyding sal wegneem. 'n Mens sal dit nie goed kan begryp as jy daar aan Hom as Seun van God dink nie. Hy staan daar in al sy menslike broosheid op sy knieë en worstel met God se plan vir sy lewe; 'n plan wat lynreg indruis teen wat Hy graag self wil hê. En tog druk hy deur, omdat die Vader nee gesê het op sy smeking. Dis nie net ek en jy wat met vrae en onduidelikhede en vaaghede in ons geloof sit nie. Dis nie net ek en jy wat soms 'n nee by God kry nie. Jesus het ook. Dís hoekom Hy ons Leidsman kan wees. Ek dink dis iets waaroor ons Hom kan prys. Dink jy nie ook so nie?
|
|
|
08.06.2010 12:30:58
|
Ná 18 jaar word ons huis hierdie maand vir die eerste keer aan die binnekant geverf. Ons het lank daarna uitgesien. Al die krake en barste en vuil kolle en vlekke gaan weg wees. Dit was hoog tyd dat dié goed aandag kry. Maar noudat dit uiteindelik ’n werklikheid geword het, is ons nie meer so opgewonde nie. In 18 jaar kan ’n mens nogal baie goed opgegaar, en dit staan die hele huis vol. Ons weet al lank dat ons behoort minder te maak, ontslae moet raak van die klotter, maar ai, dis makliker gesê as gedaan. Ek is nie ’n ou wat maklik iets weggooi nie, en buitendien beteken dit jy moet tyd maak om dit te doen. Dit gaan nie vanself uit die huis verdwyn en een mooi dag as ek wakker word, is die huis netjies en aan die kant nie. Ek moet dit doen. Ek moet elke onnodige boek, elke ekstra skroef en doos vat en uitgooi. En al die ornamente wat eens op ’n tyd vir ons mooi was, maar nou net in die pad is. Die een verwer vra my of ek al die boeke lees wat so in stapels in die kamer staan. En toe sê hy nee, dis te veel boeke. Ek stem met hom saam. Iewers, sonder dat ons dit agter gekom het, het ons opgegaarde goed begin om ons te verswelg. En nou moet ons daarvan ontslae raak. Pleks ons dit nooit aangeskaf het nie. Of net weggemaak het soos die tyd aangaan. Dan het ons nie nou so ’n kopseer gehad nie. Ek het ’n idee dit gaan in ons geestelike lewe ook so. Oor die jare kom daar ongemerk gewoontes en sienings en tierlantyntjies by wat nie juis strook met die evangelie nie. Woorde word deel van jou woordeskat wat jou vroeër laat gril het. Gevoelens oor ander kom lê in jou hart en beswaar jou gemoed. Jou humeur word korter en jou liefde minder. Jou ywer vir die saak van die Here neem af. Jy is nie meer so lus soos eers om kerk toe te gaan nie, of jou stiltetyd is nie meer so gereeld soos dit eens op ’n tyd was nie. Hierdie geloofsverval gebeur nie oornag nie, en dikwels kom jy nie regtig agter dat dit gebeur nie, tot op ’n dag dat jy half verbaas en verleë besef dat dit darem nou te ver gegaan het. Moenie 18 jaar wag voordat jy jou geloofshuis skoonmaak nie! Dis ’n saak wat letterlik daagliks jou aandag nodig het. ’n Mens se geestelike lewe kan nie die pas markeer nie. Óf jy groei nader aan die Here, óf jy dryf weg. ’n Tussen-in is daar nie. Dis in elk geval wat ek dink. Hebreërs 6:11,12
|
|
|
05.05.2010 16:46:52
|
Partykeer word die bedelaars vir my net te erg. Soos 'n vriend eenkeer opgemerk het: ek het nie die lewensvaardigheid om dit te hanteer nie. Drie weke gelede het 'n man my in die kerk kom oploop. Sommer op die kansel opgeklim toe ek nog ná die erediens besig was om my goed bymekaar te kry. Ewe vals my bedank vir die preek wat dan glo so baie vir hom beteken het. Weet te vertel hy is honger, en ek moet net na God luister, dan sal ek weet wat om te doen. Ek vertel toe vir hom dat hy op Sondae twee keer by die kerk kan kos kry; die middag op die parkeerterrein, en die aand weer na die aanddiens. Nee, sê hy, ek luister nie mooi na God nie, want anders sou ek hom dadelik gehelp het. Toe slaan hy sommer oor na Engels. "You must practice what you preach, otherwise, what does your preach mean?" Met beskuldigende vinger en al. Ek het soos 'n rot gevoel. Die feit dat ons huisdokter later sê hy kon sien die man gebruik dwelms, het darem bietjie gehelp. Vandag weer 'n ou by die deur, netjies, ewe met 'n aktetassie in die hand. Beslis nie jou hawelose soort nie. Ek dag hy kom kollekteer vir een of ander instansie. "Dominee, ek is honger," is sy groetwoord. Nie 'n vraag nie; 'n beskuldiging. My bioritmis was seker nie reg nie, want die man se houding het nie vir my gewerk nie. Buitendien was ek bietjie gedruk vir tyd. Toe ek sê ek kan nie help nie, raak hy aggresief. "Nee, dominee man, moenou nie so wees nie." Toe ek die deur toemaak, skel hy: "Jou sleg ding!" Ek ruk die deur oop, en hy skel voort: "Jy is 'n man van God maar jy help my nie!" Iewers het daar oor die jare 'n ander houding by bedelaars gekom. Nie meer 'n houding van ek-is-verleë-en-dankbaar-vir-hulp nie, maar jy-skuld-my-en-dis-my-reg-om-gehelp-te-word. Daarom eis hulle geld of kos, en wee jou as jy dit nie gee nie! Ek bid maar dat die Here my die onderskeidingsvermoë sal gee om te help waar daar regtig nood is, en ek troos my daaraan dat die Here Jesus nie alle nood in Israel verlig het terwyl Hy daar was nie. Intussen wens ek ek het 'n hoë heining om die erf gehad, met 'n interkom by die voorhek, sodat ek nie in my gesig verskree hoef te word nie. En ek droom van 'n dag wanner ons kosgee-program só goed loop dat daar elke dag kos sal wees, sodat ons mense op so 'n manier kan help en hulle nie tussen die huise loop en dwaal soos aasvoëls nie.
 |
|
Tags:
|
|
|
|
|
13.04.2010 04:00:30
|
Hier in die Pase, die Opstandingstyd, word 'n mens noodwendig weer gekonfronteer met die vraag: Hoe dink jy oor die opstanding van Jesus? Ek is nie 'n Nuwe Hervormer nie. Ek is ook nie iemand wat die feitelikheid van Jesus se opstanding hoegenaamd wil verwater of enige vraagtekens daaroor wil hang (soos skynbaar mode geword het by sommige moderne teoloë) nie. Ek glo dat Jesus leef, nie net in gees nie, en dat Hy ná sy opstanding 'n liggaam gehad het (en steeds het) waaraan mense kan vat. Hy het immers vir Tomas genooi om sy vingers in sy wonde te kom druk, en vis geëet om vir sy dissipels te wys dat Hy nie 'n gees of blote verskyning is nie. Hy het ook vir Maria Magdalena gesê sy moet Hom nie vashou nie, toe sy voor sy voete neergeval het op daardie heel eerste Paasmôre. Tog dink het die Nuwe Hervormers druk ons om meer genuanseerd as in die ou dae oor Jesus se opstanding te dink. Ek het dit die afgelope tyd weer goed besef toe ek 'n stukkie gelees het waar iemand Jesus se ontwaking uit die dood probeer beskryf het; hoe die bloed weer in sy are begin pomp het, die naalde en spelde-sensasie in sy vingers, ensovoorts. Aangrypend geskryf, maar terselfdertyd ook heeltemal te veel gesê. Ek wil vandag met baie groter huiwering praat oor wat ek van Jesus se opstanding weet. Nie oor die dát van die opstanding nie (daaroor twyfel ek nie) maar oor die hóé daarvan. Ek meen ons was in die verlede heeltemal te stellig oor sake wat die Bybel self in misterie hul. Jesus se opstanding is iets totaal anders as bv dié van Lasarus of Jaïrus se dogter. Sy liggaam was nie meer 'n gewone aardse liggaam nie; daarom kon Hy verskyn en verdwyn, en het selfs sy naaste aardse vriende Hom nie noodwendig onmiddellik herken nie. Paulus maak ook heelwat daarvan dat die vlees van die opstandingsliggaam anders is as dié van ons aardse liggame. Daarom juig ek vandag oor die opstanding, maar trap ek suutjies as ek dit verwoord, want dit is 'n gebeurtenis wat ons verstand te bowe gaan. Maar dis tog wat geloof is, nie waar nie? Om jou lewe oor te gee, en jou denke, aan Hom wat soveel meer is as wat ons ooit sal begryp. Jesus het opgestaan! Hy leef! Halleluja!
|
|
|
10.03.2010 17:51:42
|
Die woorde van Dawid in Ps 27:4 bly die laaste ruk in my gedagtes draai: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel.” Miskien het Paulus dié woorde van Dawid in gedagte gehad toe hy in Fil. 4:8 geskryf het: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is , alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig,” of soos hy dit in Kol. 3:2 stel: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is ...” Veral hier in die Lydenstyd is Dawid se versugting vir ons tydig. Sonder nadenke oor die goedheid van God, of dan die bekoorlikheid, die skoonheid van God (as ons meer letterlik vertaal) kan ons godsdiens maklik vervlak in ’n pligpleging sonder enige persoonlike verhouding met God, iets wat ons vinnig wil afhandel sonder om ons daarin te verdiep. Die Hervormers se groot vraag was: “Hoe kry ek ’n genadige God?” Vir hulle was die skuld-vraag die heel belangrikste van almal, en hulle was waarskynlik reg, want solank ons skuld tussen ons en God staan, sal ons nie by Hom uitkom nie. Maar geloof gaan nie net om die skuld-vraag nie, want dit kan daartoe lei dat ons net met ons sonde besig bly, en ons vergifnis, en ons nie verder kom as sondebelydenis nie. Nadenke oor die goedheid van God is iets heeltemal anders. Dit dwing ons om tyd te maak om oor God self na te dink, nie net oor wat ons van Hom kan kry nie, maar ook Wie Hy is. Wie is Hy vir jou? Dit is die vraag waaroor jy en ek helderheid moet kry. Want Hy is veel meer as net die Een wat ons skuld vergewe. Hy is die lig, die bron van die lewe, die fontein waaruit alles wat goed is, vloei; Hy is liefde, Hy is kunstenaar by uitnemendheid, Hy is vol verrassings ... O, dat ek my lewe lank mag nadink oor God se skoonheid en goedheid!
|
|
|
23.02.2010 04:14:02
|
Twee goed het hierdie week gebeur wat my weer oor dié gebruik laat nadink het. Die een is ’n kennis van my wat alkohol opgegee het vir Lydenstyd. Maar Saterdag was dit verskriklik warm. Hier in die Paarl het die kwik by 46 grade gaan draai. Die man sê toe hy het nou wel alkohol opgegee vir Lydenstyd, maar dit was so warm, toe knak hy maar ’n biertjie. Dawid se woorde in 2 Sam 24:24 het my te binne geskiet: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” Die ander ding wat my weer laat nadink het oor vas, was ’n gesprek met iemand wat gesê het vas is vir haar iets wat jy doen as jy jou voor die Here verootmoedig, of as jy sy leiding in ’n saak soek en jou daarom afsonder in gebed, en sy is natuurlik reg ook. Vas kán dit beteken. Maar dis nie die enigste vorm van vas nie. Vas in Lydenstyd het vir my ’n ander karakter. Dis nie soseer ’n daad van verootmoediging nie; dis eerder ’n daad van toewyding, iets wat jou voortdurend herinner aan ons Heiland wat sy lewe (en nie maar net sjokolade of alkohol of koffie of sepies of so iets nie) opgegee het vir my en jou. ’n Mens kan beswaarlik die Lydenstyd vastende deurgaan en nié aan die Here se offer dink nie, want elke keer as jy die keuse opnuut maak om die koppie koffie nié te drink nie, of die sjokolade nié te eet nie, herinner dit jou onwillekeurig aan die Here se lyding. So dra ons ons geloofsverhouding in in die gewone sfeer van ons daaglikse lewe, en kan dit selfs ’n wonderlike aanknopingspunt tot ’n gesprek word met iemand anders. Ons hoef natuurlik nie te vas nie; dis ’n vrywillige keuse. Maar vir dié wat die keuse maak, is dit ’n geseënde een. Daarvan kan ek persoonlik getuig.
|
|
|
09.11.2009 17:45:29
|
Laat ek dit maar reguit sê: ek verstaan God nie aldag nie. Ek verstaan nie hoe Hy met mense werk nie; hoe Hy met sy eie kinders werk nie, mense wat Hy liefhet. Hoe kan Hy dan toelaat dat slegte dinge met sy kinders gebeur? Hoekom bly Hy soms stil as hulle in hulle nood na Hom toe vlug en soebat en smeek om uitkoms, om 'n antwoord? Jesus het ons tog Self genooi om te vra, en vir ons sal gegee word. Hy het vir ons die gelykenis vertel van die weduwee en die onregverdige regter, om te sê God is nie soos die onregverdige regter nie, ons hoef nie gedurig in sy ore te kerm nie, want Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons vra. Dis dán dat ek verleë staan voor mense wat vrae vra oor God se voorsienigheid, want ons mooiklinkende antwoorde dat God weet wanneer die regte tyd is, of dat Hy soms nee sê omdat Hy iets beters vir jou in gedagte het, of dat Hy soms wag-'n-bietjie antwoord - ons mooiklinkende antwoorde klink maar bra hol as jy iemand wat diep teleurgesteld is in die manier waarop God nie sorg nie, moet troos. Dan het ek, die man wat veronderstel is om die Bybel te ken en God se paaie te kan wys vir mense, nie antwoorde nie. Dan huil ek maar saam met mense oor hulle teleurstellings en sê simpel goed soos dat ons nie God se weë kan verstaan nie.
Hoe wens ek nie ons kon Hom verstaan het nie! Hoe wens ek nie ons kon iets van sy Goddelike logika begryp het! Maar helaas, ek sit ook maar met die vrae. Een troos het ek darem, en dit is dat groter teoloë as ek ook oor dié goed gewonder het. Selfs die apostel Paulus skryf in 1 Kor 13 dat ons nou nog in 'n dowwe spieël kyk en 'n raaiselagtige beeld sien; dat ons eendag in die hiernamaals eers alles sal verstaan. Dan sê ek vir myself, as 'n man soos Paulus ook nie alles kon verstaan nie, hoekom sal ek?
Maar watter troos bring 'n mens vir iemand wat moedeloos op uitkoms gebid en gewag is?
Wat ek wel sien, is dat mense wat só met God worstel, geestelik ongelooflik groei. Ek sien dat ons vrae en frustrasies ons nader aan God bring - mits ons natuurlik mét God worstel, en nie die rug op Hom draai nie. Op 'n manier wat ek nie verstaan nie, is dit régtig so dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).
|
|
|
15.10.2009 08:26:50
|
Die Hebreërskrywer maak baie daarvan dat ons geloof juis nie op sien gebaseer is nie (Heb 11:1). Hy sê as jy iets kan sien, het jy nie geloof nodig nie. Dís natuurlik presies hier waar die moderne skeptici die pad byster raak.
Hulle meen dat jy nie iets kan glo wat jy nie kan bewys nie. Hulle maak hulle eie verstand uiteindelik die regter in die saak oor God. God kan natuurlik nie gesien word nie, en nie bewys word met wetenskaplike navorsing nie. Dus is die gevolgtrekking logies: God bestaan nie. Die feit dat hulle nie antwoorde het oor die vraag na waar die skepping vandaan kom, of waar lewe vandaan kom nie, pla hulle skynbaar nie. Die ongelooflike wonder van die skepping met sy delikate balans skreeu dit elke dag dawerend uit dat God daar is. Die Bybel praat dikwels daarvan. Gaan lees gerus Psalm 19, Jesaja 40, Job 38-41 ... En tog sal agnostici en ateïste hulle skouers optrek en sê dit oortuig hulle geensins om te glo nie. Húlle sien God nie in die natuur nie.
Daar is ook ander vorme van moderne nadenke oor dié saak wat ongelukkig nie minder verlossend is nie. Die sg. Nuwe Hervormers (ek gee toe dis moeilik om hulle almal netjies onder een sambreel bymekaar te hou, want hulle standpunte is soms baie uiteenlopend) aanvaar wel dat God daar is, maar het talle vrae oor die Persoon van Jesus. Hulle probleem is dat daar geen wetenskaplike ruimte is vir Jesus se maagdelike geboorte of sy opstanding uit die dood nie. Vir hulle was Hy bloot ’n besondere, begenadigde profeet, en dis al. Hy was seun van God soos ons almal kinders van God is, en nie Seun van God in ’n unieke, vreemde manier soos wat ons bely nie. Hy was nie God self soos Joh. 1 onomwonde sê nie. Snaaks dat mense wat tweeduisend jaar ná Jesus geleef het, beter weet as mense wat Hom self geken het, persoonlik die opgestane Jesus in lewende lywe ontmoet het, en getuies was van sy hemelvaart. Die Nuwe Hervormers bepleit ’n soort geloof waarin ons aanvaar dat Jesus wel vir ons ’n weg na God toe wys met sy verkondiging, maar dat die weg wat ons as Christene bely, slegs een van die legitieme weë na God toe is, naas talle ander weë, soos dié waarop bv. die Moslems loop. Ons almal sal uiteindelik by dieselfde God uitkom, al roep ons Hom tans op verskillende name aan en al lees ons verskillende handleidings, soos die Bybel en die Koran en so aan.
’n Mens moet baie onkundig en ondenkend wees as jy nie self ook al op ’n stadium (of selfs meermale) oor dié goed gewonder het nie. Prof. WIllie Jonker het op ’n keer gesê iemand wat nog nooit oor God getwyfel het nie, het net nog nooit regtig oor Hom gedink nie. Want alles is nié glashelder as dit by geloof kom nie. Ek het ook talle vrae. Ek wonder soms of ek my nie maar alles self wysmaak en glo omdat dit die veilige uitweg is nie. Ek wonder veral oor dié dinge as ek lank en ernstig bid oor iets wat vir my baie belangrik is, en dan voel dit vir my my gebede hang in die lug. Het God dit ooit gehoor? Steur Hy Hom regtig aan my gekerm? Of nog erger: is daar ’n God? Maar geloof is nie net ’n intellektuele spel nie. Ek dink dis baie moeilik om te glo as jy géén ervaring ooit van God het nie. As jy die Here Jesus nog nooit werklik ontmoet het en daarom weet dat Hy leef nie. As jy nog nooit die Bybel gelees het en skielik net die gewaarwording het dat die Gees nou by jou is en besig is om met jou spesifiek te praat nie. As jy nie daagliks ondervind hoe die Bybel jou lewe rig en verryk omdat God daardeur aan die woord kom nie. As jy nog nie met ander gelowiges saam was en beleef het hoe julle saamwees méér is as net julle, want God is self teenwoordig. As ek twyfel, bring dié soort ervarings van God se lewende teenwoordigheid my weer tot rus. Hoe kan ek selfs net wónder of God regtig is, as ek dan self al beleef het hoe Hy my lewe aangeraak het?
God is baie groter as wat ek en jy ooit kan vermoed. Ons kan Hom nie kleinkry nie. As ons kon, sou Hy mos nie God gewees het nie! En daarom móét ek ook in my denke oor God ruimte maak vir die misterie van sy grootheid, sy andersheid, sy heiligheid. En moet ek Hom vertrou omdat ek glo Hy weet wat Hy doen, selfs al maak dit vir my gladnie sin nie.
Ek glo, Here! Kom my ongeloof te hulp.
 |
|
|
|
|
|
|
07.09.2009 12:59:23
|
Laat ek maar eerlik wees: my verstaan van wat geloof is, het die laaste tyd ingrypende veranderinge ondergaan. Ek sou seker kon sê verdieping, maar dalk is dit effe verwaand, asof ek nou eintlik weet wat gaan vir wat as dit by geloofskwessies kom.
Wat is nou anders?
Ek dink die groot verandering het gekom by my definisie van ’n ware geloof. In my jongdae het ek gedink ’n ware geloof is om seker te weet dat Jesus jou persoonlike Verlosser is; om te glo en te bely dat sy bloed ook jóú skuld weggewas het.
Dit is natuurlik nie verkeerd nie. Maar dis onvolledig om só oor geloof te praat. Want geloof het ook ’n ander kant, ’n doen-kant. Daarsonder weet ek werklik nie of dit meer geloof is nie. Jakobus sê ’n liggaam wat nie asemhaal nie, is dood, en so ook is geloof wat nie in werke sigbaar word nie, ’n dooie geloof. Natuurlik het ek dit altyd geweet en gesê ook, en gepreek, maar ek het altyd gedink die werke-deel is so half en half ekstra; ’n bonus. Ek het dit nie mooi deurgedink en verstaan dat werke ’n integrale deel van geloof is nie.
Ek was daarin ’n goeie seun van die kerk, want dis hoe die kerk ons oor die jare geleer het. Daarin was ons ’n tipiese ortodokse kerk – ons het baie gemaak van die regte leer, die suiwer verkondiging, die korrekte verstaan van die Skrifte. Ons het gedink solank dít reg is, is alles reg. En ons was hopeloos verkeerd. Want kennis alleen kan jou nie in die regte verhouding met God bring nie. Geloof vra navolging; om nie net te praat soos Jesus nie, maar te leef soos Hy.
Ek is dankbaar en opgewonde oor die nuwe verstaan van geloof. Oral om my sien ek mense wat dit ook verstaan, en leef. En gaandeweg lyk die kerk anders. Kry die kerk ’n vriendelike gesig, ’n helpende hand, word dit ’n tuiste.
Ek dink Jesus glimlag oor dié verandering.
|
|
|
02.09.2009 04:51:46
|
Ek lees gister die grappie van die man wat in die christelike boekwinkel is en vir die assistent vra waarvoor is die letters WWJD op die pette wat hulle verkoop. Sy sê toe dit is om jou te help om te weet wat die regte ding is om te doen in 'n bepaalde situasie, want dit staan vir "What would Jesus do". Waarop die man antwoord: "Jesus sou nie R89,95 vir daardie pet gevra het nie."
Inderdaad. Wat sou Jesus gedoen het? Hoe kan 'n mens weet? Dis natuurlik wonderlik om jou lewe te wil laat lei deur die voorbeeld van Jesus, maar om te weet wat Hy in 'n bepaalde situasie sou gedoen het, is nie so eenvoudig nie, en een van die redes daarvoor is dat ons Hom nie so goed ken soos ons behoort nie. Ons lees nie genoeg oor Hom nie; ons fokus nie genoeg op Hom nie; ons praat nie genoeg met Hom nie; ons luister nie genoeg na Hom nie. Kortom, voordat jy 'n intuïtiewe aanvoeling kan kry oor wat Jesus sou gedoen het as Hy in jou skoene was, moet jy 'n baie diep, innige verhouding met Hom hê.
Ek dink ons moderne mense sukkel met hierdie een, want daar is so baie eise en aansprake op ons tyd en aandag wat van verskillende oorde op ons afkom, dat die tyd dikwels ontbreek om aan 'n dieper verhouding met Jesus te werk. Dit is nie maar genoeg om te bid: "Jesus, wees U die Koning in my lewe, Amen," en daar gaan jy nie. Dit gaan om 'n daaglikse verdieping in God se Woord, in besonder die Evangelies waar ons Jesus se woorde en dade kan volg en Hom so beter kan leer ken.
Ek het besluit om elke dag, as deel van my stiltetyd, ook 'n gedeelte uit een van die Evangelies te lees om my te help om Jesus beter te leer ken. Vanoggend lees ek in Johannes 10:14 waar Jesus sê: "Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My ..."
Dís waaroor dit gaan: dat ons Hom sal ken. Dán eers kan ons die vraag van WWJD regtig begin antwoord.
|
|
|
|